Local newsNewsNews

Talle dakloos gelaat nadat Leeuhof-woning afbrand

Mense wat kan help word versoek om donasies te maak.

VEREENIGING. – Ongeveer sewe mense is dakloos gelaat nadat ‘n brand vroeg Donderdagoggend (9 Mei 2024) ‘n huis in Bosbokstraat in Leeuhof in puin gelê het.

Volgens Rudolf Potgieter (39), ‘n inwoner, het die brand vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 in die oggend ontstaan.

“Ons weet nie presies wat gebeur het nie. Hulle vermoed dat daar ‘n kortsluiting was,” het Potgieter aan Vaalweekblad vertel.

Die huis in Bosbokstraat wat afgebrand het. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Potgieter was daar slegs drie mense in die hoofhuis en twee mense in die buitekamer toe die brand ontstaan het.

“My ma, haar kêrel en my boetie was in die huis. Ek en my dogter was in die buitekamer. Gelukkig was die ander kinders nie hier toe dit gebeur het nie,” het Potgieter aan Vaalweekblad vertel.

Die inwoners het gelukkig betyds wakker geword en kon uit die vlammehel ontsnap.

Potgieter se broer het glo brandwonde opgedoen. Die res van die mense is ongedeerd.

Rudolf Potgieter by die woning wat afgebrand het. Foto: Christiaan Cloete

Later Donderdagoggend het talle inwoners op die huis toegesak om sinkplate weg te dra.

‘n Inwoner dra sinkplate weg. Foto: Christiaan Cloete
Inwoners dra sinkplate weg. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Potgieter het hulle feitlik alles in die brand verloor.

Intussen word daar vir donasies gevra om die inwoners van die huis te help.

Mense wat kan help word versoek om Susan van die Leeuhof-komitee by 063 155 5156 te skakel.

Mense word gevra om met donasies te help.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button