‘Ons is hier om te bly’
Bekende Vaaldriehoek besigheidseienaar en entrepreneur, Gert Janse van Rensburg gee sy redes hoekom hy 29 Mei gaan stem.

VANDERBIJLPARK. – Hy is een van die Vaaldriehoek se bedrywigste entrepreneurs, ‘n besigheidseienaar en werkskepper met ʼn passie vir die Vaal en sy mense.
Ook vir Suid-Afrika. Gert Janse van Rensburg sê hy voel positief oor die verkiesing. Stem gaan hy beslis stem.
“Daar is nog hoop vir ons land. Van hier af kan ons net verbeter. Ek glo as een nasie kan ons saamstaan en saamwerk.
“Die wat ingestem word, moet net doen waarvoor hul betaal word. Die res van ons is hier om te bly,” beduie hy.
Gert voel steeds ons het die beste land op aarde. Dit maak hom opgewonde as hy sien dat daar nog ontwikkeling aan die gang is.
“Dis lekker om te sien as ʼn nuwe kompleks of winkel verrys in die Vaaldriehoek. Dit beteken hier is nog mense wat in die area glo.”
Hy erken daar was tye wat hy al gewonder het of hy nie maar sy gesin Weskaap toe moet neem nie, maar dan skud hy sy kop. “Ek kan nie. Die Vaaldriehoek lê my te na aan die hart.
“Mense moet gaan stem. Dis nie net vir die hier en nou nie, dis vir ons jong kinders se toekoms. Die nuwe generasie moet hoop hê en ons het nou die geleentheid om dit vir hul te skep,” het hy afgesluit.