Ek sê maar net: 1… 2… 3… blok myself!
RUBRIEK. - Waar baie mense saamtrek, is die kanse vir vasparkeer groot. Gelukkig het 'n dapper trio tot my redding gekom.
RUBRIEK. – Vrydagmiddag ry ek paraat by een van die plaaslike laerskole se hekke in.
Die parkeeroom beduie dat ek ‘n kantpaadjie moet vat. Daar is nog ‘n plek onder afdakke en dis reg agter die rugbyveld.
So gesê, so gedaan. Ek stuur myse Ford Mich na bowe. Die parkering is oop, reg langs ‘n paal. Ek hou nie van pale nie. Mich ook nie.
Mich kom tot stilstand langs ‘n wit motor. Terwyl ek my kamerasak uit die motor lig, gaan daar rooi ligte in my kop af.
Mich staan bietjie skeef, maar dis nie die probleem nie, dis die paal. Ek besef ek gaan vir die uitkomslag ys in my are en hare op my tande nodig hê.
Nie onmoontlik nie, maar senutergend. Ek gaan doen wat ek moet doen, kamera om die nek en notaboek in die hand.
Die o.9’s dink aan op die veld draf, toe ek besef die tyd raak min. Ek het nog ‘n onderhoud wat wag.
Om die hoek en ek bespeur ‘n ding wat dadelik my moed in my skoene laat sak.
Reg agter Mich staan daar ‘n groenerige Figo. Ford nogal. Dus Mich se kleinneef. Die Figo pla niemand nie.
Was Mich die grootte van ‘n outydse Volla en ek ‘n meer bedrewe bestuurder was daar geen probleem nie.
“Nou, Gerda Bruinette, gaan jy hulp vra,” seg ek vir myself en loop tot by die eerste mense wat ek sien.
Daar staan twee jongmanne en ‘n vrou. “Wie van julle is baie goeie bestuurders?”
Die twee ridders is dadelik gewillig om te help. Maar, die uitkom was glad nie so maklik nie.
Ridder nommer een staan voor die motor en keer dat Mich nie ten gronde by die wal afgaan nie. Ridder twee is agter die stuurwiel.
Sy ma staan voor die paal en keer dat Mich nie met staal kennis maak nie. Dis bietjie vorentoe. Bietjie agtertoe. Stuurwiel skerp regs. Weer vorentoe.
Op ‘n stadium dag ek Mich is vir ewig geblok, maar die ridders gee nie moed op nie. Tien minute later staan Mich neus in die regte rigting om uit te ry.
Sjoe, ek het nie jul name en vanne gekry nie. Maar, baie dankie aan die drie vriendelike mense wat bereid was om ‘n joernalis uit ‘n blokkasie te kry.
