Beroemd, maar nie berug
Hul foto's verskyn gereeld onder Elsje's Choice on Photographs in Vaalweekblad. Maak nader kennis met die twee hartestelers, Aiko en Koda.
SASOLBURG. – Aiko en Koda se foto’s verskyn gereeld in Vaalweekblad. Nie omdat hul kwaad doen nie, bloot omdat hul mensema, Cynthia Malan die oulikste foto’s van hulle neem.
Op die Facebookgroep, Elsje’s Choice on Photographs is die twee Husky’s bekende gesigte.

Aiko veral is gewoond aan die kamera. Nie dat sy altyd lus is om afgeneem te word nie.
Sy is 7½ jaar en Cynthia het jare gelede al vir Aiko haar eie profiel op Instagram geskep, aiko_the_husky.
Met oor die 19 400 volgelinge is sy ‘n sosiale media ster in eie reg. Koda (amper vyf maande) is bietjie ontstig omdat niemand nog daaraan gedink het om vir hom ‘n profiel te skep nie, maar eintlik gee hy nie regtig om nie.
Hy is op sy gelukkigste as hy agter Aiko kan stertjie, met die bal speel en hondeskool toe kan gaan.

Sy lekkerste, lekker is om met sy voorpote in die Malans se chloor-vrye swembad te lê en te wonder watter avontuur hy volgende gaan aanpak.
Die duo het met Vaalweekblad se besoek dadelik maats gemaak en dit was eers ‘n grootskaalse gegroet, en so bietjie skindernuus uitruil, alvorens ek toegelaat is om my notaboek en pen te voorskyn te bring.
Cynthia sê Husky’s is nie maklike honde om aan te hou nie. Die ras verg baie aandag, moet opgelei word en moet verkieslik nie alleen wees nie.

Hulle wil deel van ‘n pak wees en nuttig voel. Husky’s is mos bekend as die energieke honde wat die sleë in Alaska trek.
“Ek het met Husky’s grootgeword. My ma het van hulle gehad en dis vir my net logies om ook Husky’s te hê,” vertel Cynthia.
Sy het ‘n passie vir diere (hulle het katte ook, maar Koda het gereken dis sy onderhoud wat hy nie met sy aangenome katfamilie gaan deel nie) en geniet fotografie.
Die dat Koda en Aiko so gereeld voor haar lens verskyn. Gaan volg gerus vir Aiko by @aiko_the_husky en net miskien maak Koda ook sy verskyning daar.
