Mag hierdie een die keerpunt wees
RUBRIEK. - Van 27 April 1994 tot 29 Mei 2024. Ek het nie een verkiesing gemis nie. Hierdie een het anders gevoel.
Nog ‘n verkiesing is verby. Stemdag, 29 Mei het baie herinner aan die groot verkiesing van 1994. Die lang rye. Die gedetermineerdheid om te stem.
Te staan en te bly staan, want jou stem is jou stem. Ten minste was al die paaie na die stembusse in 1994 nog heel en rybaar.
Volsirkel vir my ook gewees. In 1994 het ek by Laerskool Frikkie Meyer in Vanderbijlpark gestem en 30 jaar later, staan ek weer in dieselfde ry.
Ek het so ver in elke verkiesing gestem, maar nie by dieselfde lokaal nie. Daar was drie verkiesings wat ek in Pretoria my stem uitgebring het en een in Graskop.
In 2019 was ek terug in Vanderbijlpark, terug in die ry by Frikkie Meyer. Dit was anders daai jaar.
Pa het nog gelewe en wou by my weet of ek ‘n reis na gister beleef toe ek die skoolgronde betree. Ek was op my dag ‘n leerling van Laerskool Frikkie Meyer.
Dit was lank terug. Die tuine het mooi gelyk, die gras was groen en in die skoolsaal kon jy van die vloer af eet, sou dit toegelaat word. Blink, mooi. Skoon.
Hierdie jaar se verkiesing was anders. Baie anders. Pa is nie meer hier om te frons as die amptenare met hom Engels praat of nie Bruinette kan spel nie.
Daar was niemand om my te terg omdat ek op my dag in ‘n grasgroenrokkie en wit sokkies ‘n Frikkie was nie.
Die ergste was vir my die skoolsaal. Die ou skoolwapen met die leuse, Leer en dien, nog bokant die verhoog, maar die res…
Die eertydse blink vloere, dop af, splinter, lyk sommer net vuil en verwaarloos. My ou laerskool dra swaar aan sy jare.
Niks is meer dieselfde nie. Die groot verkiesing van 1994 is ‘n vae herinnering. 2024 se stemme word nog getel. Ek hoop dit maak ‘n verskil.
Kanse is skraal dat ek 2054 se verkiesing sal sien, maar hopelik het al die ou skole dan weer blink vloere met slaggat-vrye paaie rondom die skool.
