Local newsNewsNews

Phoenix High in Vereeniging groet sy hoof

Mnr. André Botha het die voorreg gehad om die eerste hoof van Phoenix High te wees. Nou lê daar nuwe avonture vir hom voor.

VEREENIGING. – 2013 was ‘n geskiedkundige jaar vir hoërskole in die Vaal. Dit was die jaar wat twee van die oudste en grootste hoërskole in die geskiedenis van die Vaal saamgesmelt het.

Die Hoërskool Vereeniging en HTS Vereeniging het een geword en staan bekend as Vereeniging Gimnasium op die skoolterrein van die voormalige HS Vereeniging.

Die HTS Vereeniging se skoolterrein het toe die tuiste van die nuutgebore Engelse Hoërskool, Phoenix High School, geword.

Daarmee saam het mnr. André Botha die voorreg gehad om die eerste hoof van Phoenix High die leisels te neem.

Die skool het in 2013 begin met 166 graad 8’s. Die skool is nou in sy twaalfde bestaansjaar en spog met 943 leerders.

Nog een van die hoogtepunte onder mnr. Botha se leiding is die spoggerige Tegniese Sentrum wat sal toesien dat die skool binnekort ‘n SOS (School of Speciality) word.

“Behalwe vir akademie, het ek nog altyd geglo dat leerders aan soveel sport as moontlik blootgestel moet word,” sê mnr. Botha.

Die afskeidklok is gelui, nou kan hy sy
“bucket list” aanpak.

Met sy aanmoediging en ondersteuning spog die skool met verskeie leerders wat groot hoogtes bereik het in atletiek, rugby (die skool het reeds ‘n paar Cravenweek-spelers opgelewer), sokker en netbal.

Hy is ook ‘n man wat lief is vir die buitelewe en geniet veral natuurfotografie as stokperdjie. Hy en sy vrou Diana is ook baie lief om te reis, en met meer tyd tot sy beskikking is dit waarskynlik wat in die voortuitsig is.

“My ‘bucket list’ sluit in om sover moontlik te reis en nog baie plekke te sien. Ons droom om Venesië eendag te besoek,” vertel mnr. Botha.

Intussen sal hulle ten minste twee keer per jaar die Nasionale Krugerwildtuin wil besoek.

“Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om my vrou te bedank vir al die jare wat sy deur dik en dun langs my gestaan het,” het ‘n emosionele en beskeie André tydens die onderhoud gesê.

“Dit gaan nie oor my nie, maar oor die onderwys en die leerders,” het hy afgesluit.

Leerlinge van Phoenix High in Vereeniging moes onlangs afskeid neem van hul hoof, mnr. André Botha. Foto’s: André du Toit

Meer inligting oor mnr. André Botha

* André is op 22 Mei 1964 in die Queen Victoria Hospitaal in Johannesburg gebore.

* Hy het aan die Hoërskool Helpmekaar matrikuleer.

* Na twee jaar se Nasionale Militêre Diensplig verwerf André sy Onderwysdiploma aan Goudstad
Onderwyskollege.

* Hy begin sy loopbaan aan die Laerskool Louis Trichardt in Limpopo.

* Na Laerskool Louis Trichardt hou André skool by Meyerton Primary en daarna aanvaar hy ‘n pos by General Smuts High School waar hy vir 15 jaar skoolgehou het.

* Hy was betrokke by die Valke Rugby as afrigter en keurder, asook by Vaaldriehoek Krieket as afrigter en Keurder.

* Hy was adjunkhoof by die HS Vereeniging totdat hy die pos as hoof by Phoenix High School aanvaar het.

Back to top button