Local newsNewsNews

Ek sê maar net – Die koek was kaal

RUBRIEK. - Kommunikasiegapings en misverstande gebeur en soms kan mens later lekker daaroor lag. Wat is die verskil tussen 'n kaal koek en 'n kaal koek?

RUBRIEK. – Moet ek ‘n onderhoud in Meyerton gaan doen. Dis drie dagreise te perd, maar dit was alles die moeite werd. My missie was om Panda van nader te leer ken.

Hy was onlangs die seremoniemonster by MooiVaal Media se Beste van die Vaal toekennings en by die kantoor gons dit steeds oor die man.

Ek het dit gemis. Winter 2024 se griep is nie ‘n speletjie nie. Dit daar gelaat.

Panda hou van stories vertel en al gou het hy my aan die lag. “Wat is die vreemdste koek wat jy al gebak het?”, probeer ek orde bring.

“Die ‘naked’ koek,” verklaar hy en WhatsApp summier die foto. Die koek is ‘n vroue-figuur in ‘n bikini. Te fraai versier in swart en wit.

“Daar was ‘n misverstand. ‘n Kommunikasiegaping,” seg hy. Die ‘naked’ koek het ‘n paar jare gelede gebeur.

‘n Predikantsvrou het hom genader om ‘n koek te bak vir haar seun se 21ste. ‘n ‘Naked’ koek.

Bak Panda toe die ietwat wulpse, maar tog kunstige meesterstuk. Was toe geheel nie wat die vrou wou gehad het nie.

Mev. Dominee het bedoel ‘n kaal koek, soos in een met baie min versiersel op, en wel, Panda het gedink sy bedoel ‘n kaal koek.

Die beeld wil nie uit my gedagtes wyk nie en ek lag so ek kry nie my koffie gesluk nie.

“Selfs Panda maak soms ‘n flater,” was sy enigste kommentaar op die kale koek wat seker ‘n hele gemeente op hol gehad het.

Dit kom daarvan as mens jou tale meng. “Een vanilla koek sonder versiersel,” sou dalk die misverstand gespaar het, maar waaroor sou ek dan op ‘n Dinsdagmiddag op ‘n stoep in Meyerton kon giggel?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Back to top button