Onse Panda – kleurryk, kreatief en op ‘n drafstap
Vermaaklikheidskunstenaar, uitsonderlike sjef, 'n kunstenaar in murg en been wat leef op besig wees en kreatiwiteit. Maak kennis met Panda van Pandarasie op die stasie.
MEYERTON. – Hy weet hoe om ‘n gehoor te bekoor en enige geleentheid in ‘n fees te omskep, hetsy deur klank, kleur, lekker kos of sy skerp sin vir humor.
Sy geboortesertifikaat lees Johan du Preez, maar almal ken hom as Panda. “Pandarasie op die stasie,” lag hy vrolik oor sy besigheid se naam.
Dis die naam wat sy jarelange bestie, die befaamde Lizz Meiring uitgedink het en hy is gek daaroor.

“Hier by Pandarasie doen ons alles van platters tot by funksies, en as jy wil is ek sommer die MC ook,” verduidelik hy op die voorstoep van sy huis.
In die kombuis is sy span besig om te woel. Die naweek wag daar weer ‘n paar troues en groot verjaardagfunksies.
Tussendeur skakel ‘n vrou oor ‘n biltong- en droëworskoek. “Ek bak die brood self. Twee brode, gevul met roomkaas en baie droëwors rondom en biltong in die middel.”

Panda doen dinge ordentlik of glad nie. “Ek het in Sonlandpark grootgeword, alhoewel ek altyd by die skool vertel het ek bly in Drie Riviere-Oos,” lag hy weer lekker.
Op sy dag was hy hoofseun van HS Overvaal se hotelskool. Nie dat hy ooit gedink het hy gaan spyseniering doen nie.
“My ma het 35 jaar spyseniering gedoen. Ek onthou nog die hordes roomhorinkies wat ons moes maak. Ek het gesweer ek sal dit nooit doen nie.”
Vir 15 jaar het hy nie, was hy ‘n handelsmerk ambassadeur wat die maatskappy se naam op TV en radio uitgedra het.
“Dit was goeie jare, maar toe het ek net genoeg gehad,” trek hy skouers op en ‘catering was in my blood.’

In 2022 het Pandarasie die lig gesien en sedertdien kan Panda nie voorbly nie. “Ek het ‘n amazing span en kliënte.”
Behalwe vir kosmaak, ontwerp, dekor en mense vermaak, het hy ook ‘n passie vir tuinmaak en om nuwe idees op TikTok te ontdek.
In sy agterkop broei daar nog vele projekte van Panda’s Little Chefs tot by Panda’s Little Gardeners.
“Ek gaan nog daarby uitkom. Weet net nie heeltemal wanneer nie,” sug hy, maar sy oë vonkel.
Panda geniet die lewe en sy onblusbare energie sleur almal om hom mee. “My vrou, Leandré, hou my op die grond. Sy verstaan finansies,” beduie hy trots.
Die egpaar is al 18 jaar getroud en het twee kinders, Yollie en Lehan. Volg Panda gerus op sy Facebook-blad, Pandarasie.
