Local newsNewsNews

Tragiese tydperk in geskiedenis herdenk

VEREENIGING. - Jaarliks op 16 Junie word Konsentrasiekampdag op verskeie plekke landswyd onthou. Ook hier in die Vaal by die Vereeniging Konsentrasiekamp Begraafplaas.

VEREENIGING. – Oktober 1898 boelie Brittanje die ZAR en Vrystaat in ‘n oorlog in wat volgens hulle mening kortstondig sal wees.

Dit is immers onopgeleide boere teen ‘n oormag hoogs-opgeleide Britse leer, min wetend hoe vasberade, dapper en vindingryk hierdie Boervolk kan wees.

Die oorlog tussen Boer en Brit sleep voort teen ‘n geweldige prys met groot lewensverlies.

In ‘n desperate poging om die Boere tot oorgawe te dwing word die Verskroeide Aarde Beleid toegepas. Alle plase moet verwoes word. Vee, oeste en eiendom moet vernietig word.

Op 16 Junie 1900 tree die Konsentrasiekamp Beleid in werking. Alle boeregesinne; vrouens, kinders en bejaardes word gevange geneem en soos diere aangejaag en op oop treintrokke of waens weggevoer na gevangeniskampe of te wel konsentrasiekampe.

Hier word hulle in die haglikste omstandighede aangehou: oorvol tente, karige voedselrantsoene, tekort aan hout, watertekort, gebrekkige sanitasie en bitter min mediese sorg.

Hierdie kampe verander gou in helkampe en duisende vrouens en kinders sterf (na raming tussen 22 000 en 32 000). Feitlik ‘n hele generasie kinders sterf.

Nogtans het die volk nie in sak en as bly lê nie. Na die Vrede van Vereeniging, 31 Mei 1902, het hulle eenvoudig weer opgestaan en skouer aan die wiel gesit om te herbou.

Die jeug en jongmense is ingespan om hierdie Lewende Geskiedenis optrede aan te bied.

Op 16 Junie het ‘n groot groep mense weer eens bymekaar gekom in die Vereeniging Konsentrasiekamp Begraafplaas om hierdie dag te herdenk.

Die winterkoue is gou-gou verdryf met heerlike moerkoffie en tuisgebakte beskuit en koekies, verskaf deur GGSA Vaal se lede.

Vanjaar het die klem van die verrigtinge geval op ons geskiedenis en die mooi gebruik van Afrikaans. Hartseer en roerende gedigte is voorgedra wat hierdie gebeure so mooi beskryf.

Die jeug en jongmense is ingespan om hierdie lewende geskiedenis optrede aan te bied.

Soos gebruiklik is die verrigtinge geopen en afgesluit deur die Vryheidsmonument Voortrekkers. Pastoor Pieter Kriel het ‘n treffende boodskap gelewer.

Chalkboard Champs, skool vir kinders met spesiale behoeftes, se optrede het baie harte gesteel.
Die geskiedenis vertelling en voorstelling het almal vasgenael laat sit.

Die leerlinge van Chalkboard Champs doen hul deel.

Die ongenaakbare Britte (Mark Walkden, Hubert Sowerby en helpers) het oë laat rek. Die voordrag van moeder en dogter (Adriana Human en Sonja en Bittereinder (Peet Schabort) het ‘n knop in menige keel gelaat.

Boer en Brit het simbolies handgeskud en doringboompies is as hoop vir die toekoms deur die pappas en jong manne geplant.

Vaalrivier Volkspele Laer het ‘n paar bekende Volksliedjies weer afgestof en almal aan die sing gekry.
Die sweepklapkuns op maat van musiek is deur die jonge Quan van Zyl meesterlik uitgevoer.

In stilte en rustigheid is blommetjies en kransies onder die lang naamlys neergelê.

Nog foto’s van die dag deur Chilli PicNic:

Die geskiedenis vertelling en voorstelling het almal vasgenael laat sit.

Soos gebruiklik is die verrigtinge geopen en afgesluit deur die Vryheidsmonument Voortrekkers.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button