Twee Afri-Indie nominasies vir Vaal se Déjà vu
Ons hou duimvas vir Harry Broersma en Déjà vu by die Afri-Indie Toekennings

VANDERBIJLPARK. – Harry Broersma en sy Déjà vu-band sing die wêreld aan die brand.
Hul nuutste enkelsnit, Rof, word wyd op radiostasies gespeel, van OFM tot by Bok Radio en Ifm 102.2.
Verlede week het Harry die goeie nuus ontvang dat hul finaliste is in twee kategorieë vir die SA Onafhanklike Kunstenaar Musiektoekennings (Afri-Indie), naamlik vir Beste Rock Enkelsnit en Beste Alternatiewe Enkelsnit.
“Ek is oor die maan,” vertel Harry, wat naas sanger en liedjieskrywer ook apteker is.
“Ons is regtig dankbaar vir elke geleentheid, en hierdie een is groot. Ek weet nie wie ons genomineer het nie, maar ons is dankbaar ons word raakgesien.”
Harry sal ook eersdaags op Via TV se Klankbaan as gaskunstenaar optree. Die Afri-Indie toekennings vind Woensdag, 7 Augustus by die AfriForum Teater plaas.
Déjà vu is nie die enigstes wat die Vaaldriehoek by die gala-aand gaan verteenwoordig nie.
Ons eie Mirandi (naaswenner van Die Kontrak 3) gaan saam met Karin Hougaard, David Fourie en Rayne as ere gaskunstenaars optree.
Die enkelsnit, Rof, se video is te sien op YouTube onder @dejavuvevo413.