Drie van Vaalweekblad benoem vir “Gemeenskapsjoernalistiek Oscars”
Die AVBOB FCJ Excellence Awards staan onder plaaslike joernaliste as die “Oscars van Gemeenskapsjoernalistiek” bekend.

VANDERBIJLPARK. – Drie van MooiVaal Media se span in die Vaaldriehoek is finaliste in vanjaar se Die AVBOB FCJ Excellence Awards.
Elsje Vermeulen, Ettienne van Rensburg en Christiaan Cloete is finaliste in verskeie kategorië by vanjaar se FCJ Excellence Awards.
Die finaliste is beoordeel op werk wat hulle verlede jaar (2023) gelewer het.
Die gala-aand en prysuitdeling vind op Vrydag 2 Augustus by die Sandton Hotel in Benmore Gardens plaas.
* Christiaan Cloete, ‘n verslaggewer van Vaalweekblad en redakteur van Ster North, is ‘n finalis in die volgende skrywerk-afdelings: Digitale Verslaggewing, Harde Nuus, “Human Interest”, Ondersoekende Verslaggewing. Hy is ook benoem in die afdeling vir Nuusfotografie.
* Ettienne van Rensburg, Vaalweekblad se sportredakteur en redakteur van Ster South, is ‘n finalis in die volgende afdelings: Fotografie: Algemeen, Sportfotografie, Nuusfotografie en Fotograaf van die Jaar. Hy is ook ‘n finalis in die kategorie vir Sport Skryfwerk.
* Elsje Vermeulen, Vaalweekblad se redakteur, is ‘n finalis in die afdelings: Sportfotografie, Nuusfotografie.
* Vaalweekblad is dan ook ‘n finalis in die afdeling Betaalde Koerant van die Jaar.
Volgens ‘n persverklaring wat deur die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) uitgereik is het die paneel van 24 beoordelaars vanjaar altesaam 531 inskrywings van regoor Suid-Afrika ontvang.
“Gemeenskapsjoernaliste is nie alleenlik die plaaslike waghonde nie, hulle help ook gemeenskappe om te floreer deur oor alles wat gebeur te berig, van sport tot sosiale geleenthede en die ondersteuning aan plaaslike ondernemings.
“Nuuskantore is klein en gemeenskapsjoernaliste werk baie hard. Ons, as beoordelaars, kan dit sien. Wat egter meer belangrik is, is dat mense in julle gemeenskappe kan sien en waardeer wat julle vir hulle doen. Moet nooit die belangrike rolle wat julle speel onderskat nie,” het mnr. André Gouws, sameroeper van die AVBOB FCJ Excellence Awards in ‘n verklaring gesê.
