Ek sê maar net… Soos ‘n grenshou in die laaste boulbeurt
RUBRIEK. - Lekker as mens 'n eertydse krieketheld in 'n supermark raakloop.
RUBRIEK. – Die ding met my en krieket kom al ‘n lang pad. Op skool het ek nie krieket verstaan nie.
Vyf dae van manne in wit klere wat rondstaan en dan eindig die wedstryd onbeslis. Nee, ek was toe rugby-mal.
Kom universiteit en ek piekel my swart en wit draagbare TV saam koshuis toe. Eers as vierdejaar toe ek uiteindelik ‘n enkelkamer kon kry. Dit was eksamentyd en wel, daar was tye wat mens enige iets sou doen behalwe swot.
Ek het begin krieket kyk, en dit verstaan. Kort voor lank was ek ‘n Protea aanhanger wat tot in die middel van die nag gekyk het hoe daar grenshoue gemoker word.
In die 90’s was manne soos Alan Donald, Jonty Rhodes, Gary Kirsten, Fanie de Villiers en Brian McMillan my helde.
Hulle is later opgevolg deur Shaun Pollock, Lance Klusener en natuurlik Jacques Kallis. Die dat ek met kamera om die nek verlede Maandag President Hyper toe is.
Ek het geweet die kanse is 99.9% dat my geagte redakteur, Elsje daar sal wees om die storie te doen, maar wie kan nou ‘n joernalis keer?
Ma wou in allegeval ‘n paar goete gaan koop. Ons stap in. Ek hou my nonchalant.
“Nou waar is die ou?” wil Ma weet. Ma hou nie van krieket nie. Ek het al probeer verduidelik van eendagwedstryde en T20’s, maar sy hak nog vas by die vyf-dae ding waar daar volgens haar niks gebeur het nie.
Net duskant die vleisrakke gewaar ek die groep. “Daar’s hy. Hou vas” seg ek en laat Ma net daar met die trollie, my beursie en selfoon.
Sit sommer my Voormalige Protea-krieketspeler mediakaart so in die loop om my nek. Mens moet darem amptelik lyk.
“Ek is van die Vaalweekblad. Hoekom is Jacques Kallis nou eintlik hier?”, vra ek sommer die naaste man wat lyk of hy een van die supermark se bestuurders kan wees.
Hy praat nog van kompetisies en helikopterritte, toe ‘n ander man my vertel hy het so pas met iemand van Vaalweekblad gepraat. Sy neem foto’s van die wenners buite.
Ek weet dis my redakteur. Hy reken ek moet by haar uitkom. In sy noppies dat hy twee van die koerant op die storie het.
Ek dink vir ‘n verandering vinnig op my voete. Druk my kamera in die een man se hand en steek hand uit na my eertydse krieketheld.
Die wêreld se voormalige nommer een all-rounder is vriendelik. Glimlag geduldig saam met my vir die kamera en ek is tevrede.
“Ons kan nou maar inkopies doen. Elsje is hier,” seg ek vir Ma terwyl ek my kamera en kaart bêre.
“Die bacon is duur,” is die enigste kommentaar wat ek kry terwyl Ma die trollie stoot, min gepla oor wie in die winkel rondloop.
