Krieket is Mignon se kos en skaak haar nagereg
Mignon Goosen (17) was onlangs die enigste skaakspeler wat Sedibeng by die African Youth Chess Championships verteenwoordig het.
VANDERBIJLPARK. – Mignon Goosen is op haar gelukkigste op die krieketveld. Sy weet hoe om die wilgerlat te swaai, maar dis boulwerk wat haar die naaste aan die hart lê.
Die graad 11-leerder is deel van die HS Driehoek se eerste meisies krieketspan en droom daarvan om eendag die bal te laat draai vir die Proteas.

Sy het op laerskool al saam met haar jonger broer, Lucious begin krieket speel en het verlief geraak op die spel.
Op hoërskool het sy die kans gekry om wedstryd-krieket te speel. Sy is deel van die Wanderers Krieketklub en het in graad 9 en 10 vir die Lions in haar ouderdomskategorie gespeel.
Naas krieket, het sy ook ‘n liefde vir skaak. Sy en haar pa, Luciano, het toe sy in graad 1 was, besluit om saam skaak te leer.
In graad 3 het sy aan haar eerste SA skaakkampioenskap deelgeneem. Die volgende jaar is sy uitgenooi om Suid-Afrika in Indië te verteenwoordig.
In graad 5 en 6 het sy weer aan die SA’s deelgeneem, maar in graad 7 het Covid toegeslaan.
“Ek het nie van die aanlyn kompetisies gehou nie en het vir ‘n tyd lank nie gespeel nie.”
Nou se dae is sy weer skaakfiks en het so pas van die African Youth Chess Championships teruggekeer wat in Benoni gehou is.
“Ek het in die o.18- afdeling vir meisies deelgeneem en het vier van my nege wedstryde gewen.”
Mignon was die enigste speler van Sedibeng by die groot Afrika toernooi. Sy het die eerste keer Sedibeng kleure in graad 2 verdien.
“Skaak het my geleer om stil te sit en te fokus. Ek het ook geleer dat mens altyd ‘n plan en strategie in die lewe moet hê, net soos in skaak.”
Stilsit kan sy, maar net wanneer sy absoluut moet.
Soos die keer in graad 5 wat sy deel was van ‘n simultaan teen skaakmeester Wesley So. Die spel het agt ure geduur voordat hy ‘n gelykop uitslag verklaar het.
