Kwarteeu se lief en leed agter ‘n taxi se stuur
Christo Behr vertel van 'n rooftog en ander uitdagings waarvoor hy al te staan gekom het, maar hy bly mal oor sy werk!

VANDERBIJLPARK. – Word ‘n taxi-drywer en sien die land… maar vir dié voorreg moet jy ook hare op jou tande, breë skouers en ‘n geduldige oor hê. Hiervan kan Christo Behr getuig nadat hy verlede week sy 25ste jaar agter ‘n huurmotorstuurwiel gevier het.
Christo was nog ‘n jong man toe hy toevallig in Vanderbijlpark se sakesentrum hoor dat Annelie’s Taxi’s op soek is na ‘n drywer. Hy was onseker of dit die regte soort werk vir hom was maar het aansoek gedoen en is op die daad aangestel. In die volgende 25 jaar het hy een van die dorp se bekendste en gewildste taxi-bestuurders geword.
“Vandag kan ek terugkyk en sê ek is regtig mal oor my werk. Ek ry so tussen 1 000 en 1 800 km per week en het al baie plekke gesien wat ek nooit sou besoek het as dit nie vir die ryery was nie. Plekke soos Durban, Nelspruit, New Castle, Bloemfontein, Hartenbos en Mosselbaai. Om mense na en van O.R. Tambo-lughawe of die Zimbabwe-grenspos te vervoer, is ook nie ongewoon nie. Die lekkerste is dat baie van my lojale kliënte deur die jare vriende geword het,” sê hy.
Moeilike ritte was daar beslis. Soos die keer toe hy ‘n bejaarde oom wat op sterwe was, vanaf ‘n plaaslike hospies na Bloemhof moes vervoer. Die familie kon nie ‘n ambulans bekostig nie en Christo moes die pasiënt met ‘n drip en suurstofmasjien op die motor se agtersitplek laat lê. Dit was ‘n snikhete dag in die Wes-Transvaal en Christo kon weens die oom se toestand nie ‘n venster oopmaak of die waaier aanskakel nie. Sy verligting was groot toe hy die oom uiteindelik na die beproewende rit lewend by sy bestemming besorg het.
Gevaarlike situasies duik ook soms op, soos die keer op 11 Junie 2019 toe hy twee mans buite Vaalgate opgelaai het en na Sebokeng moes vervoer. “Die oomblik toe hulle in die kar sit, het ek geweet dit was ‘n fout. Maar wat kon ek doen? In Sebokeng het hulle my al in die rondte laat ry tot by ‘n veld naby Kwa-Masiza hostel. Daar druk hulle toe ‘n vuurwapen teen my kop en eis alles – my beursie met geld, my lisensie, my ID… alles. Ek het probeer kalm bly, uitgespring en begin hardloop. Ek het ‘n polisiebakkie in die verte gesien en hulle aandag getrek. Die rowers het my kar se sleutel intussen in die bosse gegooi en oor ‘n muur ontvlug. Die polisielede het toe maar saam help soek na my sleutel en uiteindelik is darem ongedeerd huis toe,” onthou Christo.
Ondanks die uitdagings geniet hy steeds elke werksdag. “Ek wil net baie dankie sê aan al die kliënte en almal wat die afgelope 25 jaar my pad gekruis het. Sonder julle ondersteuning sou ek dit nie gemaak het tot hier nie.”

