VANDERBIJLPARK – Drie gewapende mans het gisteroggend tydens ’n dramatiese rooftog helder oordag veiligheidswagte geteiken wat geld na ’n OTM by die Vaal Gate-winkelsentrum vervoer het.
Volgens inligting tot Ster se beskikking het die verdagtes die wagte glo oorval terwyl hulle kontant na die OTM vervoer het en hulle van twee vuurwapens beroof voordat hulle in ’n wit Volkswagen Polo van die toneel gevlug het.
’n Alarm is geaktiveer, wat gelei het tot ’n skietgeveg tussen die verdagtes en die bestuurder van die geld-in-transito (GIT)-voertuig.
Polisie en private sekuriteitspersoneel het na die toneel gehaas om ondersteuning te verleen.
In reaksie op Ster se navrae het die Gautengse polisiewoordvoerder, kaptein Tintswalo Sibeko, bevestig dat geen kontant tydens die voorval gesteel is nie en dat geen beserings aangemeld is nie.
Sy het gesê die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof nadat die verdagtes daarin geslaag het om met die twee gesteelde vuurwapens van die toneel te vlug.
Hierdie voorval volg slegs twee dae nadat nog ’n mislukte gewapende roofpoging die gebied geruk het.
Woensdag het ’n groep gewapende verdagtes drie winkels by die Vaal Mall-winkelsentrum geteiken.
