VANDERBIJLPARK. – Vyf verdagtes is gearresteer na ‘n mislukte rooftog wat Maandagmiddag omstreeks 12:15 by die Vaal Mall plaasgevind het.
Drie mans en twee vroue wat Ravats ʼn juwelierswinkel in die winkelsentrum beroof het, is in die parkeerterrein deur karwagte en Fidelity sekuriteitspersoneel aangekeer.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens was ook vinnig op die toneel en het die verdagtes gearresteer.
Volgens Machiel Kroezen, sekuriteitshoof van Vaal Mall, het die eienaar van Ravats onraad vermoed toe twee vroue en later nog drie mans die winkel binnegaan het.

“Die eienaar het die paniekknoppie gedruk en een van die verdagtes het ʼn geweer uitgehaal en hulle beroof,” het Kroezen bevestig.
Die vyf verdagtes het daarna gevlug, maar is in die parkeerarea aangekeer en is later deur die polisie gearresteer. Volgens Kroezen is al die gesteelde items teruggevind.
