
*Vaalweekblad het op 2 Augustus in die berig dat die Afriforum-buurtwag en Suid-Afrikaanse Polisiediens verskeie plaaslike skole besoek en op dwelms beslaggelê het. Hierdie berig het ook melding gemaak van ‘n onlangse bewusmakingsveldtog by onder andere Hoërskool Sasolburg. Die beriggewing is op ‘n Afriforum persverklaring geskoei. Die organisasie het sedertdien uitdruklik bevestig dat Hoërskool Sasolburg nie deur bogemelde klopjag geteiken is nie en dat deen dwelms dus daar gevind is nie. Afriforum het hul verskoning aangebied vir enige verwarring wat die persverklaring moontlik kon veroorsaak. Vaalweekblad maak hiermee bogenoemde duidelik en eggo Afriforum se verskoning.
SASOLBURG. – Die AfriForum-buurtwag in Sasolburg het op 26 Julie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op onder meer dagga en tik, oftewel “crystal meth”, by plaaslike hoërskole beslag gelê.
Die dwelms was in skryfpenne, glimpenne, gombuisies en lekkergoedpapiere versteek. Hierdie volg ná ’n bewusmakingsveldtog oor die gevare van dwelmmisbruik by Hoërskool Articon, Hoërskool Vaalpark en Hoërskool Sasolburg.

Tydens die operasie is die leerders en hul skooltasse deursoek waar daar ook op sigarette en handgemaakte rooktoerusting vir dwelmgebruik afgekom is.
Die skoolbesoeke het ook opvoedkundige praatjies oor dissipline, respek, boeliegedrag, dwelmmisbruik en kriminele rekords ingesluit . Hierdie praatjies het ongeveer 720 leerders in drie ure bereik.
Die ander instansies betrokke by hierdie suksesvolle operasie, was die Vrystaatse Departement van Onderwys, Vispol, die K9-eenheid, die kinderbeskermingseenheid, misdaadintelligensie, Groenpunt-gevangenis, die Departement van Vervoer, die Nasionale Vervolgingsgesag en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum.
“Die enigste manier hoe hierdie tipe oortredings van jong leerders opgelos kan word, is wanneer ’n aantal instansies hande vat in die stryd teen dwelms.
Dit sal goed wees as ouers ook by hierdie operasies betrokke raak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier.
Volgens Johan Potgieter, die AfriForum-buurtwagleier in Sasolburg, is die gebruik van dwelms onder leerlinge aan die toeneem as gevolg van die druk wat jongmense op hul vriende uitoefen bloot om by die groep “in te pas”. “Dwelmverkope vind ook nie net op straat plaas nie, maar ook op skoolgronde,” sluit Potgieter af.
Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak. Indien jy graag by die Sasolburg-buurtwag se projekte betrokke wil raak, kontak Potgieter by 082 337 5983.
