Ontwikkeling in Sasolburg moet stopgesit word – AfriForum
Verskeie inwoners het reeds die verwikkelinge opgemerk en almal wonder en is bekommerd oor wat daar aan die gebeur is!
AfriForum eis dat die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit onmiddellik ontwikkeling wat tans in ses uitbreidings in Sasolburg gedoen word, moet staak aangesien dit na bewering nie aan verskeie kritieke vereistes vir ontwikkeling voldoen nie.
Die burgerregteorganisasie voer aan dat ontwikkelaars nie vereistes ten opsigte van onder meer riolering, stormwater en verkeer nakom nie en dat dit uiteindelik veilige en volhoubare ontwikkeling in dié stad benadeel.
Dié ontwikkeling wat in uitbreidings 74, 75, 76, 77, 78 en 79 onderneem word, is deel van die Sasolburg-dorpsbeplanningskema wat op 17 Oktober 2019 deur die Metsimaholo-dorpsbeplanningstribunaal goedgekeur is.
Die ontwikkeling is egter afgeskop voordat daar aan al die voorwaardes wat die tribunaal daargestel het, voldoen is.
In ’n skrywe wat AfriForum vandag aan die Metsimaholo-munisipaliteit gerig het, versoek die burgerregteorganisasie onder meer die planne planne vir die ontwikkeling van padinfrastruktuur, rioolwerke, waterpunte en so meer soos uiteengesit deur die tribunaal sodat bepaal kan word of die ontwikkeling aan al die nodige vereistes en voorwaardes voldoen.
Daar is nog geen teken van die uitbreiding van rioolwerke of wateraanlegte om ekstra kapasiteit te skep nie, die padnetwerk is nie uitgebou om die ekstra verkeer te hanteer nie en daar is ook nie stormwaterdreine aangebou nie.

Vereistes waaraan voldoen moet word sluit in onder meer:
- konsolidasie van erwe soos uiteengesit deur die Wet op Ruimtelike Beplanning van en Grondgebruikbestuur 16 van 2013;
- opknapping van die padnetwerk en infrastruktuur soos uiteengesit in die verkeersimpakstudie;
- aanstelling van ’n onafhanklike kontrakteur om ’n volledige infrastruktuurassessering te doen;
- ontwerp en bou van ’n nuwe rioolaanleg om genoegsame riolering vir die ontwikkeling te bied;
- bou en ontwerp van voldoende stormwaterstelsels; en
- voorlegging van voorlopige ontwerpplanne van die huise wat gebou gaan word in die dorpontwikkelingsgebied (dié planne moet binne ses maande vanaf die goedkeuring van die ontwikkeling ingedien word).
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, blyk dit asof min tot geen van die vereistes nagekom is.
“Dit is van kritieke belang dat al die voorgeskrewe voorwaardes nagekom word om die belange en welsyn van die gemeenskappe wat geraak word, te beskerm.
“Ons het reeds ’n krisis met riool wat in die Vaalrivier beland en ons is bekommerd dat daar nie kapasiteit is om die ontwikkeling van 8 000 nuwe huise te akkommodeer nie.
“Drinkwater, stormwater- en padinfrastruktuur is die volgende bron van kommer. As die voorgeskrewe vereistes nie nagekom is nie, sal dit ’n omgewingsnagmerrie veroorsaak wat ons eenvoudig nie kan bekostig nie,” voeg Grobbelaar by.
Indien die Metsimaholo-munisipaliteit nie teen Woensdag 14 Augustus 2024 die nodige dokumentasie aan AfriForum verskaf nie, sal die organisasie genoodsaak wees om tot regsaksie oor te gaan en ’n dringende aansoek doen om ’n interdik vir die staking van die ontwikkeling te bekom.
