Lumiére leerders doen dit self
Lumiére Primêre skool in Vaalpark het besluit genoeg is genoeg en self ingespring om paaie reg te maak.
VAALPARK – Die paaie rondom Lumiére Primêre Skool is besaai met slaggate. Of liewer, dit was tot verlede week Vrydag.
Daar is heelwat minder slaggate te danke aan die Lumies wat self ingespring en gate reggemaak het.

Sakke teer is vooraf gekoop teen R90 per sak en uiteindelik het daar 220 sakke gereed gelê om na die gate gesleep, uitgegooi en vasgestamp te word.
Die leerders, in hul oudste klere met so hier en daar ‘n voorskoot, oorpak en gumboots, was baie opgewonde vir die groot aksie om te begin.
Om 11:00 het die verskillende klasse na buite beweeg waar elke graad ‘n stuk pad rondom die skool aangedurf het.

Die verkeersdepartement het van die paaie gesluit om die leerders se veiligheid te verseker.
Die personeel, van die ouers en wyk 22 se raadslid, Ruanda Meyer, het gehelp. Die jongspan het vinnig besef dat die sakke teer swaarder is as wat hul kon dink en daar is omtrent geswoeg en gesweet om die sakke by die gate te kry.

Ywerige hande het die teer ingegooi en daar is op die teer gespring om dit vas te stamp. Gelukkig was daar ‘n roller masjien wat na die tyd die opgevulde areas plat kon stryk.
