Overvaal se sjefs-in-wording wen met Oos-Kaap High Tea
Vyf skole, 13 spanne en beperkte tyd om die perfekte High Tea voor te sit. Die kompetisie was een vir die boeke.
VEREENIGING – Die tafels was keurig gedek en in die twee kombuise het die stoom behoorlik getrek.
Saterdag, 3 Augustus is die heel eerste Interskole Kulinêre Kompetisie vir die Vaaldriehoek by die NDS Chefs Academy, Maccauvlei Kampus gehou.

Tydens die eerste rondte het 26 spanne van drie elk video’s ingestuur en daaruit is die finale 13 spanne gekies wat sake Saterdag uitgespook het.
Hoërskool Drie Riviere, Hoërskool Overvaal, General Smuts High School, Fakkel School of Skills en Poelano Secondary School het almal spanne in die finaal gehad.
Die spanne het ongeveer ‘n maand tyd gehad om te oefen vir die groot dag. Die tema was ‘n tipiese Engelse High Tea, maar met eg Suid-Afrikaanse disse.

High Tea bestaan gewoonlik uit fyngebak, keurig gerangskik en klein genoeg om met die hand te eet.
Elke span moes ‘n naam hê, ‘n provinsie kies en hul tafel en vyf koshappies voorberei sodat die provinsie in die kos en versierings herken kon word.
Die oorspronklikheid van die sjefs in wording kon reeds in die spanname bespeur word, van die Kitchen Knights en die Golden Troupes tot by die 5 Star Michellins was daar.

Na ure se harde arbeid en sweet in die kombuise en toe die senutergende beoordeling van ervare sjefs en borge verteenwoordigers was dit Hoërskool Overvaal se Chocolicious-span met Antoné van Staden, Suané Heila Potgieter en Jenai Pelser wat met die louere weggestap het.
Hulle het egte cuisine uit die Oos-Kaap opgetower met onder andere ‘n Chick Pea and Mince Curry Bunny Chow op hul spyskaart.
Die Serial Grillers van die Fakkelskool in Sasolburg was tweede met hul spyskaart uit KwaZulu-Natal. Die span moes met slegs twee lede kook nadat die derde spanlid weens ongesteldheid moes onttrek.

In die derde plek was Fakkelskool se Die Drie Musketiers met hul kreatiewe spyskaart met spyse uit Gauteng.
Dit het Sebokeng Boerewors Pizzas, Soweto Spinasie en Kaas Tertjies, Roodepoort Hoendervlerkies en Egoli Pampoen Kolwyntjies ingesluit.
Die wenspan het onder andere ‘n wisseltrofee ontvang, waarvoor daar na dese jaarliks meegeding gaan word.
