Ek sê maar net… Oor vriendskap en hartsmense
RUBRIEK - Daar is kennisse, daar is vriende en dan is daar die spesie, Geesgenotikus Spesialikus. Hulle is skaars, maar lewensnoodsaaklik.
RUBRIEK – Kry ek ‘n paar weke gelede ‘n oproep uit ‘n onverwagse oord. Michael is in die land en hy reken dis tyd vir kuier.
Op ‘n Donderdagmiddag, net nadat die koerant drukkers toe is, kyk vier oudBijlers mekaar weer vir die eerste keer in jare in die oë.
Michael en sy gesin woon al jare in Doha. Johan, Ivan en ek is steeds (alweer) in die Vaal.
Algehele pandemonium vir die volgende handvol ure. Skooldae se streke en geite ding mee met huidige doen en late.
Op ‘n stadium verklaar Ivan. “Jy skryf niks wat hier gesê word in die koerant nie.” Asof ek die mengelmoes van gesprekke kan onthou.
Dis die algemene gevoel van die kuier wat in my geheue vassteek. Amper soos ‘n tuiskoms.
Die wete dat ou kennisse nuwe vriende kan word. Dat party bande toegesif deur tyd selfs sterker kan wees.
Dis die lekkerte van weer kennis maak met name uit die verlede. Met party hak jy vas op die onthou. Met ander is dit soos om aan te gaan met ‘n gesprek asof jul gister gekuier het.
Ek is gelukkig in die opsig. Het vriende wat ek in jare nie sien nie, maar die oomblik as ons mekaar weer kan oë-kyk dan word verlede, hede en toekoms een.
Dan bestaan daar nie ongemaklike stiltes nie. Hartsmense. Ver en wyd versprei. Van Namibië tot in Swede, Graskop tot in Doha. Gelukkig ook in Vanderbijl.
Regte hartsmense is skaarser as hoendertande. Uitsonderlike wesens met wie jy kopstukke kan gesels, maar waar stiltes nie die gesprek versteur nie.
Daardie individue wat die lekker en seer dae van jou jaar kalender onthou. Wat saam met jou kan lag, maar ook kan huil.
Geesgenotikus Spesialikus het ek hul nog altyd genoem. Vandag wens ek, ek kan die handvol op een plek saamtrek net om weer ‘n behoorlike oë-kyk, in persoon groot lag en dieper verstaan kuiersessie te kon hê.
‘n Foto op bakkiesblad, ‘n boodskap op WhatsApp, selfs ‘n oproep via Wi-Fi help, maar niks kan die lekkerte van mekaar in lewende lywe en net ‘n drukkie ver vervang nie.