‘Dis hoe ‘n gemeenskap saamstaan’
Die Dorp substasie moes in 2018 'n nuwe dak kry, en onlangs weer! Danksy die VF Plus en verskeie ander rolspelers is dit moontlik gemaak. DANKIE!
VANDERBIJLPARK – Inwoners in sekere woonbuurte, wat van die Dorp substasie van elektrisiteit voorsien word, het al verskeie kere hul hare uit hul kop getrek uit frustrasie as daar by dié substasie fout gaan.
Die enigste silwer randjie is dat die VF Plus in samewerking met verskeie donateurs telkens inspring om Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) by te staan en herstelwerk so gou moontlik te laat doen.
Sowat 12 000 huishoudings het aan die begin van die maand vir amper twee weke sonder elektrisiteit voortgesukkel na grootskaalse brandskade by die Dorp substasie in Curie Boulevard.
In die proses het hierdie substasie vir die tweede keer in die slag gebly. In 2018 is die substasie ook gedeeltelik in ‘n brand verwoes.
Tydens die brand op 26 Augustus is feitlik al die elektriese komponente vernietig en die dak beskadig.
Herstelwerk het stadig gevorder weens ELM se benarde finansiële posisie.

Die VF Plus het besluit om in te spring en te help met die herstel van die dak. Verskeie donateurs het hulp en skenkings aangebied om dit moontlik te maak.
Die VF Plus bedank JTD Construction and Maintenance, Clotan Steele en Ebrahim Mimosa van Mimosa Sweets vir hulle donasies om die dak te herstel.
“Die goedgunstige besighede het sonder om twee keer te dink hulp verleen. Hierdie is nóg ‘n voorbeeld oor hoe ‘n gemeenskap kan saamstaan om te herstel en bou,” sê rdl. Gerda Senekal van die VF Plus.
