Groot skade toe tant Grietjie se ‘ore’ in asblik beland
Tant Grietjie gaan 'n ruim beloning gee aan die persoon wat haar gehoorapparate kan vind en aan haar terugbesorg.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Naald in ‘n duisend hooimiede. Dit is waarna tant Grietjie, ‘n bejaarde inwoner van Jeugland-ouetehuis, soek nadat sy haar twee gehoorapparaatjies per ongeluk in haar snippermandjie gegooi het. Dit is saam met die res van die asblikinhoud weggegooi en lê vermoedelik nou iewers op ‘n ashoop, sê sy.
“Ek het in Maart 90 geword en trek binnekort na ‘n versorgingsoord in Pretoria. Ek was besig om te pak en ou artikels weg te gooi toe ek in die proses vermoedelik my gehoorstukkies, wat in hul vog-ontrekkende houer was, saam met die weggooigoed in die asblik geplaas het,” sê sy.
Dit was eers toe sy na haar “ore” begin soek het dat sy besef het watter groot fout sy vermoedelik begaan het.
“Teen daardie tyd was die gehoorstukkies reeds lankal saam met die res van my snippermandjie se inhoud weggery. Al waarvoor ek nou kan hoop, is dat iemand wat dalk na bruikbare artikels op die munisipale ashoop soek, daarop gaan afkom. Hopelik sien hulle Vaalweekblad se berig en kan hulle dit aan my terugbesorg,” sê sy.
Die Unitron-gehoorapparate was in ‘n spierwit houer met ‘n deursneë van 30 cm en ongeveer 6 cm hoog. Die houer het ‘n skroefdeksel. Tant Grietjie gaan ‘n ruim beloning gee aan die persoon wat dit kan vind en aan haar terugbesorg.
* Tant Grietjie is ‘n skuilnaam omdat sy nie graag haar identiteit bekend wil maak nie. “Ek wil nie hê almal in die ouetehuis moet weet hoe dom ek was nie,” sê sy. Iemand wat dalk op haar gehoorapparate afkom, kan Vaalweekblad kontak by 083 246 0523.
