Groot geesdrif oor Vaal Amateur-Radioklub se planne vir 2025
Die Radioklub nooi alle belangstellendes om kontak te maak en betrokke te raak!
VANDERBIJLPARK. – Die Vaaldriehoek Amateur Radioklub, ZS6VTB, se algemene jaarvergadering is onlangs gehou en soos altyd was dit ‘n aangename geleentheid vir lede om terug te kyk na die jaar se prestasies, kennis te deel en toekomstige planne vir die klub te bespreek.
Tydens die vergadering is daar sterk gefokus op die bevordering van kameraadskap en die voortsetting van die klub se toewyding aan amateur-radiobedrywighede in die gemeenskap. Planne vir 2025 is ook bespreek en dit is duidelik dat geesdrif hoog loop oor die tegniese projekte wat aangepak gaan word.
Nuwe komiteelede is ook by die jaarvergadering verkies: Hulle is Pieter Fourie ZS4SPY (voorsitter), Danie Biermann ZS4DB (ondervoorsitter), Lizanne Fitchat ZS6LIZ (tesourier en sektretaris), Dirk Hattingh ZS6DH (komiteelid), Dirk Opperman ZS6TJJ (komiteelid) en Gary Immelman ZS6YI – (herhalerbestuurder).
Die ZS6VTB Amateur Radioklub moedig ervare operateurs sowel as nuwelinge aan om die fassinerende wêreld van amateur-radio saam te kom verken. Die klub verwelkom graag enigiemand wat meer wil leer oor radio-kommunikasie. Vir meer inligting of om toekomstige geleenthede by te woon, kontak gerus die klubsekretaris, Lizanne, per e-pos by zs6vtb@gmail.com.

Onder die teenwoordiges by die Vaaldriehoek Amateur Radioklub se algemene jaarvergadering was van links: Dirk Hattingh ZS6DH, Danie Biermann ZS4DB, Norman Human ZS6NMN, Barry Fitchat ZR6BFF, Pieter Fourie ZS4SPY, Lizanne Fitchat ZS6LIZ, Dirk Opperman ZS6TJJ en Lynette Opperman ZSL6044.
