Local newsNewsNews

Jong model wil navorser word

Model, kunstenaar, skrywer, maar sy groot droom is navorsing.

MEYERTON – In 2023 het hy besluit om aan die Central South Africa Pageant (CSAP) deel te neem en tot sy eie verbasing het hy die Mr Teen titel ingepalm.

Sedertdien het die modelgogga Jordan Petersen behoorlik gebyt. In Augustus het hy die gesogte Mr Manhunt SA in Pretoria voor veel ouer en meer ervare jongmanne se neuse weggeraap.

Pas gekroon as Mr Teen CSAP in 2023. Jordan Petersen sê hy het die afgelope jaar emosioneel baie gegroei. Foto: Madz Pretoria

Op 18 is hy die jongste Mr Manhunt SA nog ooit en volgende jaar gaan hy SuidAfrika by Mr Manhunt International in Thailand verteenwoordig.

“Daar gaan deelnemers van meer as 60 lande wees en ek sien baie uit om die verskillende kulture te leer ken,” beduie hy.

Jordan geniet dit ook om model voor die kameras te speel. “Hy is baie fotogenies en lyk anders op elke foto. Dis verstommend,” brei die direkteur en eienaar van CSAP, Werner Volschenk uit.

Jordan lag net oor die komplimente. Alhoewel hy modelwerk baie geniet, lê die matrikulant van die Hoërskool Dr. Malan se drome by sy studies volgende jaar.

Hy wil Zoology (dierkunde) gaan studeer en het reeds voorlopige keuring gekry.

Jordan is baie lief vir diere en wil graag dierkunde gaan swot om homself op navorsing toe te spits.

“Diere en veral reptiele fassineer my. Ek wil navorsing doen en veral op gedragstudies van reptiele konsentreer. Dis vir my ongelooflik hoe dieselfde spesie in verskillende omstandighede en omgewings kan aanpas en ontwikkel,” vertel hy opgewonde.

Hy noem homself ‘n boekekind. Naas sy studies, waag hy ook gereeld sy hand aan digkuns en kortverhale, meestal in Engels, en is lief vir verf en teken.

“Ek hou daarvan om kuns uit niks te maak,” glimlag hy. Die jongman erken dat hy baie emosioneel gegroei het vandat hy verlede jaar sy eerste titel verower het.

“Ek het uiteindelik ‘n plek gekry waar ek  inpas,” sê hy. Nie net inpas nie, maar floreer. Die jonger titelhouers kyk op na hom as ‘n rolmodel en dis duidelik dat Mr Pre-Teen CSAP, Franco Alberts hom as sy ouboet en mentor aangeneem het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: [email protected]
Check Also
Close
Back to top button