Emil kan steeds nie loop nie, maar veg voort
VANDERBIJLPARK - Hy kan nog nie loop nie, maar Emil Krügel (49) veg moedig voort teen Guillain-Barré-sindroom (GBS) en toon stadig maar seker verbetering.
“Sy fyn motoriese vaardighede het verbeter, hy kan nou sy vingers beweeg. Sy spraak het ook verbeter en is duideliker en harder,” vertel Chris, Emil se oudste seun. Emil is pa van drie.
“My pa hersel uiteindelik tuis. Ons het gereël vir ‘n hospitaalbed tuis vir die volgende 30 dae terwyl sy versorger hier is. Ons is dankbaar vir die voortgesette ondersteuning en welwense van almal.”
Sedert Emil omstreeks 03:00 op die oggend van 28 Julie wakker geword het met die skok dat hy van sy skouers tot by sy tone verlam is, was dit ‘n uitdagende pad vir hom en sy gesin. Hy het geen tekens van enige siekte of probleme getoon nie.
Hy het die vorige dag saam met sy seuns gholf gespeel en die aand het hy en sy vrou by hul dogter gaan braai.
Die Krügels se daaglikse bestaan het dus in ‘n oogwink verander. Hy moes vir sy lewe veg!

Emil was vir nege weke in Mediclinic Emfuleni intensiewesorgeenheid en vyf weke in ‘n rehabilitasiesentrum, waar hy alles weer moes leer doen soos beweeg, praat en eet.
Danksy die ongelooflike sorg van die dokters, verpleegsters en terapeute, en natuurlik die liefde en ondersteuning van sy gesin, het sy toestand aanhou verbeter en kon hy verlede week uiteindelik huis toe gaan.
Emil se siekte het egter baie finansiële uitdagings tot gevolg. “Tot dusver beloop die mediese uitgawes byna R3m. Dit maak dit vir ons uiters moeilik om vir die volgende fase van my pa se sorg te beplan,” sê Chris.

Ná die 30 dae tuisversorging, sal daar beduidende aanpassings aan die woning gemaak moet word om dit meer rolstoelvriendelik te maak.
Daarbenewens sal hulle ‘n rolstoel en ‘n spesiale raam moet aanskaf om Emil se mobiliteit makliker te maak.
“Ons pleit by ons plaaslike gemeenskap vir ondersteuning. Ons het ‘n Back-a-Buddy-veldtog opgestel om te help met die beduidende finansiële las van sy voortdurende sorg. Ons is dankbaar vir enige bydrae, maak nie saak hoe klein nie.
“Deel asseblief ons veldtogskakel op sosiale media en met u vriende en familie. Ons waardeer die ondersteuning opreg,” sê Chris.


