Local newsNews

Laat jul harte dans vir die Vaal se diere!

Opwindende dansprojek gaan geld insamel vir katte en honde in nood

 

Almal wat gek is ook danse en diere gaan op 5 Desember ‘n geleentheid kry om dié voorliefdes te kombineer deur ‘n opwindende projek!
Die dansskool Just Dance Studio bied elke jaar ‘n spesiale professionele optrede deur hul amateurdansers aan om geld en ander benodigdhede vir behoeftige mense of diere in te samel. In vorige jare is insamelings geloods vir onder andere die Umephi Kinderhuis in Meyerton, die Go Purple Foundation, Ons Gryse Jeug Ouetehuis, Chalkboard Champs (‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes) en Purrpaws Dierehawe. Vanjaar se projek word aangebied ten bate van 50 Shades of Spay en die Feral Cat Sterilisasieprogram.

Studente van Just Dance Studio is reeds geesdriftig aan die oefen vir vanjaar se asemrowende konsert, wat 5 Desember om 17:00 vir 17:30 by die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark gehou word. Vanjaar se tema is “Inside the World of Disney”. Elke dansklassie gaan ‘n Disney-storie uitbeeld en toeskouers kan verwag om op lieflike danse, pragtige musiek, hope humor en selfs romanse getrakteer te word.

“Ons wil deur ons danse iets teruggee aan die gemeenskap. Ons wil ons Godgegewe talent aanwend om ‘n positiewe verskil te maak. Verlede jaar was ‘n reuse-sukses en hierdie jaar beoog ons om selfs groter te kan gaan. Dit is slegs moontlik met die hulp van medediereliefhebbers,” sê Leandi Goosen van Just Dance Studio.

Al die geld wat ingesamel word, sal aan die betrokke diereorganisasies oorhandig word. Vir verdere insameling is Chilli PicNic Fotografie vanjaar betrokke om 2025-almanakke en verjaardag-kalenders te maak, wat die aand verkoop gaan word en ook agterna op Facebook bemark sal word. Die almanakke gaan foto’s van elke danstema bevat, sowel as van honde en katte wat die “hoofkarakters” in elke foto gaan wees.

Die organiseerders bedank graag die volgende borge: ‘n Spesiale DANKIE aan Midvaal Private Hospitaal (vir die borg van die venue en druk van die kalenders), Chilli PicNic (fotografie), Bianca Pretorius en Blommekinders (dekor), Monique Lubbe en Lubco Engineering (dekor), JoZaMi Beauty & Tanning Salon, en Vaalweekblad & Ster (bemarking).

Toegang is R150 per persoon en “golden row”-kaartjies gaan ook teen ‘n koste van R200 per persoon beskikbaar wees. Toeskouers sal die aand ook kat- en hondekos, beddegoed of enige ander skenking vir die begunstigde diereorganisasies in ‘n donasie-stasie kan plaas. Kontak Leandi by 082 555 6284 om jou kaartjies te bespreek.

Illustration photo: Chilli PicNic

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button