Metsimaholo-dienste stort in weens wanbestuur – DA
"As die situasie voortgaan, sal noodsaaklike rekeninge soos dié van Eskom en Rand Water agterstallig raak, wat die krisis gaan vererger," voorspel raadslid Jacques Barnard.
SASOLBURG. – Dienslewering in die ANC/EFF-beheerde Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit is op ‘n allemintige laagtepunt, hoofsaaklik weens ‘n gebrek aan gereedskap, handelsmateriaal en die politieke wil om die munisipaliteit te bevorder. Die huidige regering versuim om die behoeftes van die gemeenskap te prioritiseer.”
Dié beskuldiging kom van Jacques Barnard, ‘n Demokratiese Alliansie (DA)-raadslid in die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit.
Barnard sê die DA sal toesigpogings verskerp en die uitvoerende burgemeester en sy komitee aanspreeklik hou vir dié wanbestuur.
“Ons sal aandring op dringende hervormings om basiese dienslewering te herstel en sal verseker dat begrotingstoewysings herlei word na die instandhouding van noodsaaklike infrastruktuur en opleiding van munisipale werkers om afhanklikheid van duur eksterne kontrakteurs te verminder,” het Barnard vroeër die week in ‘n mediaverklaring gesê.
Hy het verskeie aspekte genoem waar die ANC/EFF-munisipaliteit se dienslewering veel e wense laat.
“In die departement van water en afval is daar ‘n ernstige tekort aan noodsaaklike toerusting soos diensvoertuie en waterpompe, wat inwoners vir ‘n paar dae op ‘n slag sonder water laat. Instandhoudingspanne, sonder behoorlike gereedskapkiste, word gedwing om die skuld te dra vir die gevolglike swak dienslewering,” sê Barnard.
Hy sê voorts die Elektriese Departement staar soortgelyke uitdagings in die gesig met ‘n tekort aan diensvoertuie en geen beskikbare materiaal vir selfs die mees basiese take nie.
“In plaas daarvan om munisipale elektrisiëns op te lei om gesteelde kabels te vervang of kabelfoute reg te maak, word onnodige bedrae geld – wat duisende beloop – aan eksterne diensverskaffers bestee. Hierdie geld kon gebruik gewees het om munisipale personeel op te gradeer. Die skorsing van die munisipaliteit se enigste elektriese ingenieur het geen gemagtigde persoon gelaat om op projekte af te teken nie, wat dienste verder vertraag.”
Hy wys verder daarop dat die Departement: Maatskaplike Dienste reeds vir ‘n lang tydperk sewe kompakteerdervragmotors huur omdat slegs een van die munisipaliteit se 12 kompakteerdervragmotors tans in werking is. Selfs basiese dienste, soos boomsnoei, word afgeskeep.
Barnard sê die departement van finansies is ook in wanorde. “Inkomste is op ‘n historiese laagtepunt, veroorsaak deur stelselfoute en ‘n onvermoë om inwoners met hul navrae te help. Betalings en meterlesings word nie vasgelê of aan inwoners se rekeninge toegewys nie, wat vertroue tussen die munisipaliteit en die gemeenskap verder skaad. Ons is diep bekommerd dat die munisipaliteit op die punt staan om ‘n tekort te loop. As die situasie voortgaan, sal noodsaaklike rekeninge soos dié van Eskom en Rand Water agterstallig raak, wat die krisis gaan vererger,” voorspel hy.
