Local newsNewsNews

Spanpoging help hawelose gesin

In ‘n tyd waar naasteliefde nie meer hoog op die spyskaart is nie en mense sinies is om te help, het ‘n storie ontvou wat bewys daar is nog mense wat omgee.

VAALPARK – Quenene Wepener, ‘n lodge eienaar in Vaalpark het ‘n ruk terug navraag ontvang vir een nag se verblyf vir ‘n gesin van vyf, maar dis nooit bevestig of betaal nie.

Voor verlede week ontvang sy ‘n oproep van die man, Jason, wat vra of sy kan help met een nag se verblyf, hulle is gestrand.

Haar man het Jason, sy vrou en hul drie seuntjies (tweeling van agt, die jongste is ses) by ‘n vulstasie gaan haal.

Stuk-stuk het ‘n hartverskeurende verhaal ontvou: ‘n gesin wat goed gedoen het totdat die man sy werk verloor het in Junie. Hy het oral aansoek gedoen en gedink dat hy werk in Sasolburg gekry het.

Met hul laaste geld is hul uit Isando tot in Vaalpark. Maar, hier was geen werk vir hom nie. Die gesin was amper ‘n week in die omgewing alvorens Jason haar geskakel het.

Waar hulle voor dit gebly het, is nie seker nie. Vermoedelik op straat. Die een nag het uiteindelik vyf geword. ‘n Tannie van die gesin in Hoedspruit het gesê hulle kan by haar kom bly, mits hulle self daar kom.

“Ons kon hul verblyf gee, maar geld het ons nie. Teen Vrydag het ons gebid dat die Here uitkoms sal gee. Ek het hul so jammer gekry. Jy weet, hulle is Indiër Christene en die kerke wou nie help nie,” vertel Quenene.

Sy het die middag in ‘n parkie voor haar huis met hulle gesels toe Stephen Venter van VEGA Controls SA dit gesien het. “Hy het my gebel en wou weet wat aangaan? Ek het hom vertel en hy het dadelik ingespring en begin reël.”

Stephen het dieselfde aand nog vir die gesin ‘n familie ete by Mochachos Sasolburg georganiseer. Hy het onder andere op sy Facebook vir donasies gevra om die R6000 busgeld te betaal vir die mense.

Teen 14 September het hul genoeg geld gehad om die buskaartjies te betaal, asook fondse vir etes en koopbewyse waarmee hul in Hoedspruit kan kruideniersware koop. Die gesin is nou veilig in Hoedspruit.

Stephen het later op sy Facebook gesê:

“Ek sit met trane in my oë en weet nie hoe om dankie te sê vir elkeen van julle nie. Ek is ongelooflik lief vir Sasolburg/ Vaalpark en vir elkeen van julle. Dis ‘n baie trotse dag.

Groot dankie aan: AV Theron & Swanepoel Attorneys, Empire Fleet Solutions, The Horse and River, Mochachos Sasolburg en Quenene Wepener van Namib Accommodation.

Dankie aan elke persoon wat ook ‘n bydrae gemaak het, dis ‘n lang lys van mense wat geskenk het en julle is almal die rede dat die gesin hoop het.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button