Net vyf maande en groot operasie lê voor
Baba Hanru se ouers het al heelwat geld self ingesamel, enige donasies om die hospitaalkostes te dek sal waardeer word.
VANDERBIJLPARK – Hanru Smit is 14 Mei op 39 weke gebore. Sy ma, Verna Laurens, moes ‘n noodkeisersnee ondergaan en Hanru is dadelik in die neonatale hoësorgeenheid opgeneem.

Hy was vir amper ‘n week op 100% suurstof en het antibiotika deur sy naelstring ontvang.
Vir sy ouers was dit ‘n traumatiese tyd. Hy was in ‘n staatshospitaal en Verna is net eenkeer by hom toegelaat.
Sy is ‘n dag voor hom ontslaan en dit was hartverskeurend om klein Hanru agter te laat. Uiteindelik kon Hanru ook huis toe gaan en vir die volgende drie maande was hy ‘n gesonde baba.
Sy ouers het egter opgemerk dat alles nie pluis is by sy geslagsdele nie. Daar was swelling voor en agter wat al hoe groter geword het.
Op drie maande het hulle hom na ‘n uroloog geneem wat Hanru met hydroceles en spermatoceles* gediagnoseer het.

“Die swelling is regtig erg. So klein as wat hy is, dra hy al ‘n nommer vier doek,” het Verna in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
Hanru sal op 4 November ‘n operasie ondergaan waar die spesialis onder andere die vog sal dreineer. Die operasie sal by ‘n privaat hospitaal in Vereeniging gedoen word.
Die kostes beloop meer as R44 000. Die gesin het nie ‘n mediese fonds nie, maar het dadelik ingespring om die nodige fondse bymekaar te maak.
“Ons is dankbaar. Die uroloog en die narkotiseur is reeds betaal. Ons kort nog R29 000 vir die hospitaal kostes,” sê Verna.
Enige donasies, hoe klein ook al, kan ‘n verskil maak om hierdie gesin te help.
Bank besonderhede: VG Laurens Capitec Savings account 1757016900 Verwysing: Hanru
*’n Hidrocele is ‘n versameling vloeistof in die skrotum, wat die testikel omring. Spermatocele is soortgelyk aan epididimale siste en ontstaan in die agterkant van die testis. Dit druk die testis vorentoe en af – https://www.metrovanurology.com/
