Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Woelwaters en die bouncy-bounce stoel

Op 'n ligter trant. Rubriek. Ses juniors, 'n personeelkamer en 'n joernalis sorg altyd vir pret.

RUBRIEK – Die ses storm uitasem die personeelkamer binne. “Het julle gehardloop tot hier?”

Hulle koor saam. Ek hoor alles van, “my klas is ver”, “dis van doer anderkant af” tot by “ag issie, jou klas sit dan net hier.”

Drie seuns en drie meisies, almal tussen graad een en drie, kry hul sit om een van die ronde tafels.

“Okay, wie is eerste?” kommandeer ek en gaan sit op ‘n gemaklike stoel. Dit blyk die meisies is aan bewind. Hulle stuur die seuns eerste in.

Emmies se personeelkamer se stoele sit baie lekker. Toe die eerste seuntjie gaan sit toe weet ek al wat gaan volg.

“Wow.” En hy wip eers bietjie op en af. So “bouncy bounce” hulle almal, al raas die skoonmaker so bietjie en loer juffrou vir hulle.

Die twee graad eentjies kruip onder die tafel rond. ‘n Juffrou kry hulle om weer te sit.

“Hulle is maar bietjie woelig” sê ek sedig, maar geniet die woelwaters se kaskenades terdeë. Uiteindelik is dit hulle beurt.

Lienke demonstreer eers vir my dat sy kan split voordat sy by die deur uitskiet klas toe.

Die kleinste enetjie wag tot laaste. Ogies blink vrolik. “Wat is jou naam en van?” vra ek. “Siphesihle Nhlapo” en sy glimlag breed.

“Kan jy dit vir my spel asseblief?” Groot konsentrasie. “Sss” en dan “i”. Die vingertjie beduie in die lug van die kolletjie op die i.

“Wag, ek is nou deurmekaar?” sê sy en frons. “Kan jy dit vir my skryf?” Ek gee my notaboek en pen aan.

“Op die lyntjie?” vra sy. Sy konsentreer hard om haar naam en van te skryf. Ek is verbaas om die netjiese skrif te sien.

Lyk asof ‘n veel ouer kind die mooi gevormde letters gemaak het. “Sjoe, jy skryf baie mooi. Jy is duidelik baie slim.”

Die gesiggie straal oor die kompliment. “Ek gaan ‘n dokter word,” vertel sy my. Sy gaan staan vir die foto’s. “Nee man, ontspan die kamera gaan jou nie byt nie.”

Siphesihle kyk na die foto’s op my kamera. “Kan ons nog vat waar ek pose?” Ek voldoen aan haar versoek.

Sy is tevrede. Gee my eers ‘n drukkie en verdwyn dan by die deur uit. Kleine meisie wat mens met ‘n blywende indruk laat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button