‘n Laaste groet aan ‘n voortreflike man
SASOLBURG - Alexander de Kock was meer as net 'n eggenoot, pa, oupa, broer en vriend ... hy was 'n voortreflike mens wat geweldig gemis gaan word.
Alex is op 17 Oktober oorlede.
“Woorde voldoen nie om my pa se rol in ons lewens gestand te doen nie, en ons is trots om aan só ‘n man geken te word,” sê Odette de Kock (familielid).
Alex was op sy dag ‘n kranige langafstandatleet. Hy en sy broer Piet, was selfs die Victrix Ludorum van Noord-Rhodesië in 1967.
Alex het in 1971 matrikuleer waarna hy sy diensplig in Potchefstroom gedoen het. Hy het later LLB aan die Potchefstroomse Universiteit studeer.
In 1978 trou hy met Lynne Bouwer en drie kinders word uit die huwelik gebore.
Sy loopbaan by Safripol het reeds as ‘n studente vakansiewerk begin. Hy was sy hele loopbaan daar werksaam en het in 2018, na 41 jaar diens, afgetree.
As ‘n trustee by Alexander Forbes, dien hy ook sy kollegas en hulle gesinne in hierdie tyd en raak só die lewens van talle geslagte deur meedoënloos te stry vir die finansiële beskerming van werkers.
Op sportgebied het hy kort na skool sy hardloopskoene ingeruil vir rolbalskoene en hy verteenwoordig Sasolburg Rolbalklub en sy provinsie reg deur sy lewe.
Alex het ook die maksimum aantal termyne as voorsitter vir die klub gedien; daarna het hy aangebly as uitvoerende voorsitter en raadgewer.
“Ten spyte van sy voortreflikheid in elke rol wat hy vervul het, sal hy nogtans primêr onthou word vir sy skerp humor, sy deernis, nederigheid en onbaatsugtige ondersteuning aan familie, vriende en kollegas,” sê Odette.
Hy word oorleef deur die liefde van sy lewe, Lynne, en sy drie dogters, Tanya, Natasha en Leruscha met huleggenote en vier kleinkinders, Ludwigh, Nadia, Liané en Reinhardt.
So ook sy broers Piet en Lukas en hul eggenote.

