VANDERBIJLPARK – Die inwoners van die Lewenslig Sentrum vir volwasse gestremde persone is bekend as die Liggies. Eersdaags wag daar ‘n groot lekkerte vir die Liggies, want dis weer tyd vir die jaarlikse Lewenslig 4X4 dag.
Die hooforganiseerder van die dag, Klippies Kritzinger sê die dag is elke jaar ‘n hoogtepunt, nie net vir die Liggies nie, maar ook die organiseerders.
“Ons trek ‘n klomp 4X4’s bymekaar en neem die Liggies onder verkeerspolisie begeleiding en blou ligte na ‘n plaas net buite Vaaloewer. Op die plaas word almal dan op ‘n kort 4X4 roete geneem wat die Liggies elke jaar baie geniet.
Terwyl die rit aan die gang is, word daar wors gebraai en worsbroodjies gemaak.
“Dis tradisie. Elkeen kry hul worsbroodjie, koeldrank en natuurlik ‘n roomyscone. Van hulle eet sommer drie of vier cones,” lag Klippies.
Hierdie jaar se groot dag word opgedra aan Oom Fanie Blignaut, Lewenslig Sentrum se stigterslid, wat onlangs oorlede is.
Klippies sê hulle benodig nog T-hemde en pette vir die Liggies, asook 4×4 voertuie, hotdogs/hamburgers, koeldrank, water, lekkernye, roomys en cones.
“Ons maak elke jaar reg vir ongeveer 100 mense. Dit sluit nou die Liggies, die personeel en al die vrywilligers in. Donasies is ook altyd welkom en natuurlik kort ons baie hande om te help die dag. Die verrigtinge begin om 12:00 en behoort teen 16:00 klaar te wees.”
Vir meer inligting en indien jy kan bydra, kontak vir Klippies op 084 653 0211.
