BlackByrd is terug soos ‘n phoenix uit die vlam
VEREENIGING - BlackByrd het verlede Saterdagaand die Barnyard gerock! Tarryn Lamb het goed gekies wie saam met haar die verhoog moet deel.
BlackByrd het reeds in 2012 sy verskyning in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak. Die oorspronklike lede het bestaan uit Tarryn Lamb, Axene Chaberski en Tamsyn Maker.
Die groep het vinnig aanklank gevind en twee SA Musiektoekennings verwerf, insluitend Beste Duette/Groep.
Ongelukkig is Tamsyn Maker oorlede en die groep het ontbind.
Maar dit kon nie die einde vir Tarryn, wat reeds sedert die ouderdom van 17 ‘n voltydse musikant is, wees nie.

Na ‘n lang hartseer tyd, het sy besluit dat BlackByrd nie vir altyd kan gaan lê nie. Tarryn het aan die werk gespring en vir die perfekte lede gesoek om saam met haar die verhoog te deel.
Sy het goed gekies want Tasché Burger en Tasha het tydens die groep se vertoning by die Barnyard in Vereeniging, die gehoor behoorlik bekoor.
Dit was ‘n puik vertoning deur drie talentvolle sangeresse en hul konneksie met mekaar sal beslis bydra tot nuwe hoogtes vir die trio.


Musiekliefhebbers sal Tasché Burger onthou van The Voice faam.
Tasha (Natasha Zaaiman) het bekendheid verwerf vir haar deelname aan Die Kontrak, waar sy die top ses gehaal het.
Boonop spog die groep met hul eerste treffer, Didn’t I, wat natuurlik tot heel laaste gehou is … maar was dit nie die wag werd nie!
Dié treffer, wat saam deur die drie geskep is, is net die begin. BlackByrd het aan die einde van die vertoning aangekondig dat hul nuwe treffer binnekort vrygestel word. Ons kan nie wag nie!
* Vir besprekings en meer inligting oor vertonings by Vereeniging Barnyard skakel 016 454 8388 of besoek die webtuiste: barnyardvereeniging.co.za
Daar was ook ‘n paar ander bekendes in die gehoor.


