4 Ankers se kerkorrel word opnuut ingewy
Die orrel is in 1967 gebou toe die gemeente nog as Sasolburg Noord bekendgestaan het. Dié naam het in die jaar 2000 verander na die NG 4 Ankers.
SASOLBURG. – Die kerkorrel van 4 Ankers-gemeente is onlangs opgeknap en word Vrydagaand, 1 November, amptelik her-ingewy. Die geleentheid vind die aand om 18:30 in die kerkgebou in Felixstowestraat 1, Sasolburg plaas.
Liefhebbers van orrelmusiek moet beslis nie dié uitsonderlike konsert misloop nie. Dr. Isabel van Rensburg, bekende orreliste van Universiteitsoord, Pretoria, en die tenoor Johan Deyzel gaan onder andere optree. Kom luister gerus ook na Vivien Litch en 4 Ankers se eie ds. Roelf Pienaar, wat luisteraars met trompetspel gaan bederf.
“Dit gaan ‘n wonderlike aand van pragtige musiek en heerlike samesang wees,” sê Hanlie Buys, ‘n lidmaat van die gemeente. “Die orrel lyk nou weer splinternuut en het ‘n ongelooflike klank. Hoewel die grootste werk aan die orrel klaar is, is daar nog bietjie afrondingswerk wat gedoen moet word. Fondse wat met die her-inwydingskonsert ingesamel word, sal vir dié doel gebruik word,” sê sy.
Die orrel is in 1967 gebou toe die gemeente nog as Sasolburg Noord bekendgestaan het. Dié naam het in die jaar 2000 verander na die NG 4 Ankers.
* Kaartjies vir die her-inwydingskonsert kos R100 per persoon en sluit ‘n koekdrank of water in. Kinders onder 6 jaar kom gratis. Kontak gerus vir Hanlie by 082 426 9388 of die kerkkantoor by (016) 976 0050 om te bespreek.

