Ouch… Ons troeteldiere en die goggas
'n Veearts gee raad oor van die insekte en goggas wat troeteldiere in die winter kan pla.
SASOLBURG – Die somer is hier en daarmee saam is daar groter bedrywigheid onder insekte.
Troeteldiere is nie immuun teen insekbyte nie en veral bosluise en spinnekoppe kan jou dier se lewe in gevaar stel.
Dr. Letitia Swartz van Sasolburg Veearts sê wanneer jou hond deur ‘n spinnekop of bosluis gebyt is, is daar nie dadelik simptome nie.
“Omdat baie honde dik pelse het is dit nie altyd moontlik om dadelik die wond te sien nie. ‘n Byt-of steekplek is gewoonlik baie klein, maar die hond sal die plek begin lek.
“Sou die area rondom die wond wit word, beteken dit die vel gaan dood. Dis dan wanneer ‘n oop wond vorm wat infeksie kan veroorsaak.”
Sy beveel aan dat troeteldiereienaars gereeld hul honde se komberse en hondehokke was en nagaan.
“Spinnekoppe is maar skaam, hulle kruip gewoonlik weg in donker hoekies en gaatjies, so maak seker jy maak die hokke gereeld skoon.”
Vryf ook gereeld oor jou hond en kyk onder die pels of daar nie dalk ‘n rooi area is wat sensitief is of waar jou hond baie lek nie.
“Onthou, ‘n vioolspinnekopbyt het dieselfde effek op ons diere as wat dit op mense het. Die gif kan die vel laat doodgaan en die wond kan septies raak,” waarsku Letitia.
Sy beveel aan dat troeteldiereienaars gereeld teen-parasitiese middels op hul troeteldiere gebruik vir vlooie en bosluise.
Wees op die uitkyk vir bye en perdebye naby jou diere. Perdeby steke veroorsaak gewoonlik hewige swelling wat self weg gaan. Maar, soms kan dit infeksie veroorsaak.
In uiterste gevalle kan insek byte of steke ‘n sistemiese allergiese reaksie by die dier veroorsaak, waar die dier moeilik asemhaal en die hele lyf knoppe uitslaan. In so ‘n geval moet die dier dringend na ‘n veearts gevat word.
“Gelukkig gebeur dit selde, maar mense moet maar altyd versigtig wees,” waarsku Letitia.
Voorkomende maatreëls bly die belangrikste en maak seker om op die uitkyk te wees vir enige rooi of wit plekke op vierpoot se vel.
Indien jy enigsins onseker is, kontak dadelik jou plaaslike veearts.
