Local newsNewsNews

10-jarige se stryd teen sistiese fibrose

Megan is 'n dapper 10-jarige wat ten spyte van 'n ernstige longkwaal die lewe met oorgawe aandurf. Lees meer...

VANDERBIJLPARK – Megan Matthews is ‘n lewenslustige 10-jarige. Saam met haar tweelingsussie, Hope, geniet hulle dit om te speel en na hul babasussie Hayley (18 maande) te kyk.

Maar, waar Hope ‘n regte huishennetjie is, wil Megan buite wees waar sy kan fietsry, hokkie speel en perdry. Dis haar egter nie beskore nie.

Megan sukkel al van babadae af met haar longe. Vir meer as nege jaar is sy verkeerd gediagnoseer.

‘n Spesialis het in Junie uiteindelik die antwoord vir jare se lyding gegee. Sy het sistiese fibrose. Dit veroorsaak dat daar te veel slym in haar longe en om ander organe, soos haar pankreas pak. Die slym is ook te dik.

Om te ervaar wat mense met sistiese fibrose ervaar, probeer om vir een dag deur ‘n strooitjie asem te haal. ‘n Kuur is daar nie, maar wel peperduur medikasie wat verligting kan bring.

Ongelukkig is die een soort nog nie eens in Suid-Afrika goedgekeur nie en span lyers saam om elke jaar iemand oorsee te stuur om aankope te gaan doen.

“Ons was al moedeloos. Sy het bly gewig verloor en moes drie soorte asma pompies gebruik. Verlede jaar het Megan hokkie gespeel, maar het so pyn in haar longe gekry, dat sy hierdie jaar nie daarvoor kans gesien het nie,” vertel haar ma, Hendriette.

‘n Dokter by Emfuleni Mediclinic het uiteindelik die regte diagnose gemaak en haar na ‘n spesialis verwys.

“Daar is gevind dat haar pankreas geblok is met slym en nie genoeg ensieme maak nie. Haar liggaam neem glad nie sout op nie. Sy moet al haar vitamines apart inneem en haar lewenstyl moes heeltemal aangepas word,” sê haar pa, Westley.

Die tweeling is uit die skool gehaal en word nou by die huis geskool om kanse te beperk dat sy siek word. Hulle moes ook ‘n spesiale nebuliseerder aanskaf wat sy elke dag moet gebruik.

Megan sal nou elke drie maande moet gaan vir long en lewer toetse en elke ses maande vir oogtoetse omdat die spesiale medikasie katarakte kan veroorsaak.

“Sy het die afgelope drie maande al vyf kilogram opgetel,” vertel Hendriette dankbaar. Daar is nie baie mense met sistiese fibrose in die land nie en die wat daar is ondersteun mekaar op ‘n Whatsapp-groep.

Al die medikasie en behandeling het baie finansiële implikasies vir die gesin. Westley het twee werke om die pot aan die kook te hou.

Van Januarie af sal hul ook op die hoogste vlak van hul mediese fonds wees om seker te maak die fonds betaal die meeste van die R400 000 wat vir die medikasie alleen benodig word.

Daar is ‘n back-a-buddy vir Meghan begin en 23 November word ‘n Noteraai musiekaand ten bate van Meghan se mediese onkostes gehou by Be my Guest hotel in Vaalpark.

Die verrigtinge begin om 17:00. Ondersteun die aand gerus en help Meghan om makliker asem te haal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button