Local newsNewsNews

Dié leeu kan nie gehok word nie

Lion Jay se treffers word al hoe meer op plaaslike radio stasies se Top 20's gehoor. Maak nader kennis met die veelsydige sanger en liedjieskrywer.

VEREENIGING – Om Leon Jacobs in een berig te probeer vasvang is so goed jy probeer die Vaaldam met ‘n koffiebeker leeg skep.

Die man het net te veel fasette, belangstellings en talente. Intelligent. Wye algemene kennis en jare se ervaring as onder andere bemarkingsbestuurder, verkoopsverteenwoordiger, fotograaf, sportman, polisieman, radio-omroeper en sanger.

Alhoewel hy heelwat Country sing, is Lion Jay ‘n veelsydige kunstenaar wat dit geniet om verskeie genres te sing.

Leon het in sy lewe elke ding met oorgawe aangepak, hard gewerk en ‘n sukses daarvan gemaak.

“Ek werk hard. Ek werk tot ek iets onder die knie het,” keer hy as ek te veel wil hammer op al sy talente. “Nee wag, ons gesels vandag oor die musiek,” maak hy beswaar toe ek begin uitvra oor al die sportprestasies en internasionale fotografie toekennings.

Tans is musiek sy grootste passie. “Ek is nog net ‘n appy in die musiekbedryf,” beduie hy ernstig. Moeilik om te glo, want hy werk aan sy agste album in drie jaar.

Hy het ook al verskeie toekennings ontvang en is hoeka weer vir vyf SA Country Music Association/Foundation (SACMAF) toekennings benoem. Die groot aand vind 30 Oktober plaas.

Een ding wat hy nie duld nie is om in ‘n boksie te moet pas, selfs as sanger. “Ek geniet Country musiek, Afrikaanse musiek en ek kan Neil Diamond en Elvis Presley se musiek sing.

“Op die oomblik is dit lekker om my eie liedjies te skryf. Ek het nie gedink ek sal kan nie, maar nou het ek al 22 liedjies agter my naam,” vertel hy met ‘n glimlag wat in sy oë weerspieël.

Leon gesels lekker en gemaklik. Die verlede se geite en al die onverwagse kinkels en kabels wat die lewe van jongs af oor sy pad gespan het, het hom sterk gemaak. Weerbaar. Hy weet wie hy is en waarheen hy op pad is.

In die fotografie-wêreld staan hy bekend as Lion Vision Photography, as polisieman was hy bekend as die Leeu en as sanger maak hy naam as Lion Jay.

Geen wonder een van sy albums heet Die hart van ‘n leeu nie. “Ek wil hê mense moet my musiek luister en dit geniet,” verklaar hy beslis.

“Die musiekbedryf is moeilik. Ek doen alles self, behalwe vir Francois Oosthuisen wat my fotograaf is.”

Hy het eers in 2021 besluit om te begin sing en homself op ‘n musiekloopbaan toe te spits. Sedertdien het hy nog nie weer teruggekyk nie.

“Ek groei as ‘n sanger met elke album. Dis lekker. Ek leer baie en geniet dit. Musiek is my toekoms en my musiek moet ‘n nalatenskap los.”

Sy jongste enkelsnit, I will never find somebody like you, is 11 Oktober vrygestel. Dit doen goed op die sosiale media kanale. ‘n Tipiese Country liedjie wat dadelik in jou kop en hart kom nesskop.

Volg Lion Jay gerus op YouTube, Facebook en Spotify.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button