Local newsNews

Hartaanval eis steunpilaar in Emfuleni Plaaslike Raad

Wyle mnr. Sybrand Smith se gedenkdiens word vandag (29 Oktober) in die Kerk van die Nasarener in Longfellowstraat, CW6, Vanderbijlpark gehou.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende staatmaker in die plaaslike Vryheidsfront Plus (VF+), mnr. Sybrand Smit, het 17 Oktober onverwags aan ‘n hartaanval beswyk. Dit was slegs drie dae voor sy 66ste verjaardag. Mev. Gerda Senekal, VF+ raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê sy afsterwe is ‘n groot verlies vir die Party en vir die mense van Wyk 25, vir wie hy ‘n ware steunpilaar was.

“Sybrand het in 2019 as ‘n aktivis by die VF+ aangesluit. Hy het later ‘n aspirantkandidaat in die plaaslike verkiesing van 2021 geword, en na intensiewe insette is hy tot raadslid verkies. Hy het baie hard gewerk in Wyk 25, waar hy die proporsionele raadslid vir die Party was. Hy was geliefd in sy gemeenskap en was ‘n groot staatmaker vir hulle,” sê raadslid Senekal. Sy tree as woordvoerder vir die Smit-gesin op omdat hulle nog te ontwrig is om medianavrae te hanteer.

Sybrand is op 20 Oktober 1958 gebore en het in Benoni en die Noord-Oosrand grootgeword en skoolgegaan. Hy woon sedert 1981 in die Vaaldriehoek, waar hy as tuinboukundige by Sasol aangesluit het.
“Hy was uitgesproke en het konserwatiewe waardes gehad. Hy was baie beskermend oor sy geliefdes, sy kollegas en die mense in sy wyk. Daarby was hy ook ‘n groot diereliefhebber. Hy het gelewe vir sy vrou, sy gesin en hul diere. Hy het gehou van ‘selfdoen’ en om met sy hande te werk. Ons sal hom onthou as iemand wat altyd behulpsaam en vriendelik was; altyd gereed om te dien en te help,” sê raadslid Senekal.

Hy word oorleef deur sy vrou Imelda, seuns Ruan en Xander, twee dogters, Monique en Kyla uit sy vorige huwelik, en twee kleinkinders. Sy kinders woon onderskeidelik in Amerika, Australië, Port Elizabeth en Pretoria. Hy laat ook twee broers en ‘n suster agter.
Die Smit-familie neem vandag (Dinsdag 29 Oktober) om 11:00 van hom afskeid tydens ‘n lewensviering in die Kerk van die Nasarener in Longfellowstraat, CW6, Vanderbijlpark.
* Raadslid Senekal het haar innigste simpatie aan Sybrand se familie, vriende en kollegas uitgespreek.

Wyle mnr. Sybrand Smit en sy vrou, Imelda.
Wyle mnr. Sybrand Smit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button