Hoë sigbaarheid van buurtwagte hou misdaad in toom
Die Sasolburg-tak was onlangs deel van die AfriForum-buurtwagte in die Mooirivier wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), en ander instansies ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede uitgevoer het om polisiëringsigbaarheid te skep.
Die patrollie is op 18 Oktober uitgevoer. Dit het omstreeks 18:00 begin en tot 01:00 die volgende oggend voortgeduur.
Min ernstige voorvalle is in die streek aangemeld wat moontlik toegeskryf kan word aan die buurtwagte se hoë sigbaarheid.
Altesaam 206 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 4 320 km in 142 voertuie afgelê.
Die buurtwagte wat deelgeneem het, was Bothaville, Sasolburg, Songloed, Hartbeesfontein, Potchefstroom en Stilfontein, asook die Hartbeesfontein-plaaswag.
In Hartbeesfontein het die buurtwag ’n padblokkade saam met die Matlosana-verkeersdepartement gehou waartydens R25 000 se boetes uitgereik is vir onder meer dronkbestuur, onpadwaardige voertuie en roekelose en nalatige bestuur.
“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die nasionale patrollie deel te neem.
“Ek bedank ook elke patrolleerder wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hulle onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
