Local newsNewsNews

Nolan – groot inspirasie na breinoperasie

Bietjie meer as 'n jaar na sy breinoperasie en Nolan (2) vat die lewe op 'n drafstappie

VANDERBIJLPARK – 13 Januarie word hy drie. Nolan Marais reken hy wil ‘n dinosaur partytjie hê of dalk Spiderman. Hy het juis sy Spiderman hemp en skoene aan.

“Hy is mal oor alles Spiderman, maar hy wil glad nie Spiderman kyk nie,” skud sy ma, Jessica, haar kop. Die trots en dankbaarheid straal uit haar.

Klein Nolan klim op en af op die bank, dra die bank se kussings rond. Sit bykans vir geen oomblik stil nie. Tipiese amper-kleuter vol energie. Die ding is net, Nolan is nie ‘n tipiese peuter nie.

Nolan Marais wou eerder foto’s neem as om stil te staan vir die foto’s.

Verlede jaar het hy ‘n breinoperasie ondergaan en die jaar voor dit ‘n operasie om sy gesplete bo-lip reg te maak. Het Jessica destyds medici se raad gevolg om Nolan op 27 weke te aborteer, was die slimkop kleinman nie vandag hier nie.

Ondenkbaar om ‘n wêreld sonder Nolan in te dink. Van sy babadae af glinster sy ogies al vrolik. Met elke onderhoud, kan mens die vordering sien.

‘n Jaar gelede het hy maar ‘n paar kort treetjies op ‘n slag gegee, nou slaan hy kort-kort oor in ‘n drafstappie.

Nolan, lekker laf toe hy afgeneem moes word.

Nolan is verlede jaar met erge hidrokefalie gediagnoseer, ‘n kondisie waar vog in sy brein versamel. Tydens verlede jaar se operasie is ‘n nuwe paadjie en opening vir die vog in sy brein geskep.

Die vog het versamel as gevolg van ‘n sist wat drukking op die regterkant van sy serebellum plaas. Gelukkig is die sist nie kwaadaardig nie.

Jessica sê hulle was Februarie laas met Nolan by die neurochirurg. “Hy het gesê solank die sist Nolan nie pla nie, kan ons hom net los. Hy ontwikkel goed teen sy eie pas,” vertel sy dankbaar.

Nolan se spraakspiere het nooit aangegroei nie, maar dit verhinder hom nie om ‘n hond uit ‘n bos te gesels nie. Hy geniet dit om opvoedkundige kinderprogramme te kyk en tel gemaklik in Spaans, Engels en Afrikaans. Ken ook die kleure in al drie tale.

Nolan net na sy operasie in September 2023. Foto: Jessica Marais

Die kleinman het ‘n groot liefde vir diere en hy is in sy element as hy die diere kan voer by die groot kwekery in Vereeniging.

Later jare sal hy wel spraakterapie kry en sy ontwikkeling en groei word fyn dopgehou. “Sy kop is nog bietjie swaar vir sy lyfie, maar word nie groter nie. Hy kan al soveel doen, maar kry dit nog nie reg om te spring nie.”

Nie dat dit Nolan pla nie. Hy kan loop, hardloop, speel, praat en eet, alles dinge wat baie gedink het nooit vir hom moontlik sou wees nie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button