Dinge wikkel en woel by die dramaskool
Van film werkswinkels tot by eindjaarkonsterte, daar is groot bedrywigheid by die Akademie vir Dramakuns
VANDERBIJLPARK – Die Akademie vir Dramakuns se lisensiaat studente het in Oktober die voorreg gehad om ‘n toneelspel-vir-film-werkswinkel onder leiding van die bekende aktrise, Nadia Valvekens by te woon.
Kort daarna het hul weer die jaarlikse Uurglas Teater aangedurf waar twee spanne met net ‘n tema in die hand elkeen ‘n toneelstuk moes skryf, oefen en opvoer en dit alles in 24 uur.

Die derdejaars se finale eksamen is ook op hande waar elkeen hul eie toneelstuk van skryfwerk tot by dekor en regie gereed moet hê.
Die direkteur van die ADK, Franciska van der Merwe, sê die ADK bied aan volwasse studente die geleentheid om ‘n geakkrediteerde kursus in toneelspel na-ure te doen.
“Die meeste studente het voltydse beroepe, maar ook ‘n passie vir toneelspel, kamerawerk of regie. Ons doen selfs radiowerk met hulle en van hulle verander beroepe en betree voltyds die vermaaklikheidswêreld nadat hul gegradueer het,” vertel Franciska trots.
Intussen het die juniors (van laerskool tot graad 12) hul eindjaarkonserte op 2 November. Die kinders is baie opgewonde om 10:30 die verhoog Saterdag te betree. Die tieners sal die aand hul uitvoerings gee.
Franciska het ook laat weet dat Kunstedraai, geleë in Offenbachstraat, tans besig is met ‘n fondsinsamelingsprojek ten bate van ‘n kinderhuis.
“Ons verkoop boekies met afslagkoeponne van ‘n verskeidenheid plaaslike kleinsake ondernemings teen R50 per boekie. Kom maak gerus ‘n draai by Kunstedraai en ondersteun ons projek.”
