Local newsNewsNews

Help om sluiting van June Nicholls skool te keer

Elke bietjie sal help om skool vir serebraal gestremde kinders aan die gang te hou.

VANDERBIJLPARK – Rihané Venter (10) is klein vir haar ouderdom. Sy sit skugter in die hoek en kyk televisie.

David Mabuso (12) sit op die grond. Hy kruip vinnig rond op sy misvormde beentjies. Glimlag breed vir die kamera.

Klein Ofentse Thokane (4) het die mooiste glimlag al kan sy niks vir haarself doen nie. By die skool is sy gelukkig.

Langs hom pluk Kabelo Mathabise aan my broek. Beduie hy wil ook afgeneem word. Hy is sewe jaar oud, maar baie klein en maer.

Die 19 kinders sit die musiek/ televisiekamer van die Vaal Triangle Cerebral Palsy, ook bekend as die June Nicholls skool, vol.

Hulle geniet storietyd by hulle spesiale skool. Die skool waar hulle net hulself kan wees.

David Mabuso (12). Al wat die serebraal gestremde kinders soek is liefde, aanvaarding en ‘n plek waar hul veilig kan voel.

Drie klasse. In die eerste klas volg die kinders die kurrikulum, in die tweede kan hulle inkleur, maar dis die kinders in die derde klas wat harte breek.

Hulle kan niks vir hulself doen nie. Vasgevang in hul eie wêreldjies, probeer hulle glimlag. Almal in spesiale stoele vasgegespe.

Elke vorm van serebrale gestremdheid is hier sigbaar. Tog, die kinders is almal rustig. Hulle lyk gelukkig. Tevrede.

Marti Steyn, bestuurder by die skool, eggo die atmosfeer. “Solank die kinders veilig en gelukkig is en elkeen binne sy of haar eie vermoë leer. Dis al wat belangrik is.”

Sy en haar span personeellede, van die getroue tannie Poppie in die kombuis tot by die helpers wat altyd byderhand is om ‘n mondjie af te vee of ‘n doek te ruil, doen alles met ‘n hart vir die kinders.

Kabelo Mathabise (7) is doof, maar by June Nicholls het hy ‘n heenkome gevind.

Die skool bestaan al 54 jaar en is geleë in Carterstraat. Dis as nie-winsgewende organisasie by die departemente van basiese onderwys en gesondheid geregistreer. Hulle kry subsidies vir elke kind, maar dis by verre nie genoeg nie.

“Ons is dankbaar vir alles skenkings. Ons het ‘n borg wat vir ons vleis skenk. Kry gereeld nie-bederfbare voedsel en skoonmaakgoed, maar die kontantvloei is altyd ‘n probleem,” sê Marti.

Hulle het ‘n tekort van minstens R24 000 per maand op volgende jaar se begroting. Intussen moet daar voortdurend instandhouding op die geboue gedoen word, die twee bussies is oud, die drukkers het ink en papier nodig, salarisse moet betaal word…

“Die meeste van die kinders kom uit baie arm huishoudings en moet van oral uit die Sedibeng-wes streek elke dag gaan haal en teruggevat word. Brandstofkostes alleen kan tot R20 000 per maand beloop,” sê Marti.

“Ons het meer as R24 000 net aan herstelwerk aan die bussies spandeer die afgelope drie maande.”

Die span weier egter om moed op te gee. Almal is dit eens dat June Nicholls se deure oopgehou moet word.

Daarvoor benodig hul maatskappye en individue om aftrek orders van R99 per maand te skenk. Eenmalige kontant donasies word ook verwelkom.

Hul bankbesonderhede is: Rekeningnaam: Vaal Triangle Cerebral Palsy. Rekeningnommer: 021867550. Standard Bank. Tjekrekening.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button