Vaaldamvlak daal vinnig: Waterbeperkings in Emfuleni ingestel
Die Vaaldam se vlak staan tans op 34%. Verlede jaar dié tyd was dit nog 75%.
VANDERBIJLPARK. – Waterbeperkings geld tans in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) in ‘n poging om ‘n 20%-waterbesparingsteiken te bereik. Dit volg nadat Rand Water alle munisialiteite in Gauteng teen ‘n dreigende waterkrisis gewaarsku het.
Die Vaaldam, die grootste verskaffer van drinkwater in Gauteng, se vlak staan tans op 34%. Verlede jaar dié tyd was die watervlak nog 75%. Die huidige lae vlak word toegeskryf aan minder as die normale reënval in die Vaaldam se opvangsgebied, die onlangse hittegolf, sowel as oormatige wateronttrekking deur Gautengse munisipaliteite.
Boonop is die Lesotho Hoogland Waterprojektonnel waardeur die Vaaldam, Sterkfontein-, Grootdraai- en Bloemhofdam normaalweg bykomende water ontvang, sedert die begin van Oktober vir ‘n tydperk van ses maande (tot 1 Maart 2025) vir kritieke instandhoudingswerk gesluit.
Hoewel die weer die afgelope weke ‘n paar keer goed opgesteek het, het die Vaaldriehoek vanjaar nog bittermin lentereën gesien. Een van Suid-Afrika se voorste landbouweerkundiges, Johan van den Berg, het reeds in September vanjaar op Agri Market Trends (AMT) se Facebookblad voorspel dat Suid-Afrika se somerreënvalgebiede ‘n droë lente gaan hê en dat inwoners van sulke streke eers weer vanaf November tot laatsomer goeie reënval kan verwag.
ELM het op 16 Oktober ‘n kennisgewing uitgereik dat Vlak 1-waterbeperkings in die munisipale gebied ingestel is. Dit behels onder meer dat grasperke, tuine, struike en bome tans nie tussen 06:00 soggens en 18:00 saans natgelei of besproei mag word nie. Tuinslange mag nie gebruik word om voertuie, opritte, sypaadjies of geboue af te spuit nie, en swembaddens mag nie volgemaak of opgevul word nie.
Hierdie maatreëls sal van krag bly totdat die beperkings opgehef word. Indien die watersituasie egter vererger weens lae of laat reënval en verdere hittegolwe, kan strenger waterbeperkings volg. ELM waarsku dat dit tot onderbroke watertoevoer kan lei. Die munisipaliteit rig ‘n dringende versoek aan inwoners om saam te werk en water te bespaar.

