Daisy die Springbok steel harte by Heron Banks
VAALPARK - Daisy die Springbok is die nuuste lid van die Fouché-gesin. Sy is nou drie weke oud en is sommer baie lief vir haar melkbottel, die aandag wat sy van mede huisbewoners kry en om saam met Winston die staffie te speel.
Die Fouché-gesin woon op die Heron Banks Gholf Estate, hul huis is sommer so digby die tiende bof.
Dit is hier waar besoekers aan die gholfklub die afgelope twee weke nie hul oë kon glo nie. Dit is omtrend iets om self te sien as Daisy en Winston so lekker saamspeel.

Heron Banks is bekend vir die wild wat daar rondloop. Al die bokke op die estate (landgoed) behoord aan Pikkie Fouché (Daisy se mens-pa).
“Daisy is as pasgebore bokkie deur haar ma verwerp. Die sekuriteit het my laat weet dat daar ‘n bokkie in die pad lê. Ek het geen ander keuse gehad om haar in te neem en hans groot te maak nie,” vertel Pikkie.
Gelukkig het hy baie kennis oor bokke, én natuurlik al die nodige permitte wat volgens wet vereis word om bokke aan te hou.

Daisy kry tans vier keer per dag ‘n spesiale melkmengsel om te drink. “Soms maak sy my sommer 02:00 in die oggend wakker as sy nog melk wil hê,” vertel Pikkie. Dit is uit die staanspoor tydens die onderhoud duidelik dat klein Daisy met haar fluffy agterwêreld in die botter geval het.
Hier sal sy die nodige sorg kry om te oorleef!
Daisy sal vir die volgende vyf tot ses maande haar spesiale melk drink, waarna sy sal kan begin wy en eet.

Sy kry veearts-besoeke en haar oor sal binnekort getag word sodat sy uitgeken kan word as sy ouer is. Want die plan is dat sy mettertyd vry saam met die ander bokke op die landgoed kan rondloop en dan net huistoe kom as sy sou wil.
Tans bly sy deur die dag in die huis en in die omheinde tuin, en speel middae saam met Winston op die gholfbaan.
Saans slaap sy in haar bedjie in die sitkamer, of soms saam met ousus Lexi (5) in haar kamer op die mat. En sussie gee glad nie om nie.

Sy en kleinboet Jake (amper 4) is baie met Daisy betrokke en hou daarvan om haar bottel vir haar te gee en saam te gaan stap.
Die hele gesin, ma Samantha in kluis, is diereliefhebbers. Pikkie en Samantha het ook voorheen ‘n klein duifie gered en groot gemaak, wat so geheg geraak het aan hulle dat hy elke keer terug gekom het en selfs in die aande in die huis geslaap het.
Hy het tot aan die einde van leeftyd (sowat vier jaar) saans op sy plek in die kombuis gelsaap en soggens die wêreld gaan verken.
Ek vermoed dat Daisy net so ‘n goeie lewe gaan hê. Vaalweekblad sal Daisy se vordering volg.

