Ek sê maar net… Meer as net ‘n krieketheld
RUBRIEK - Joernalis wees het sy voordele. Om sommer so op 'n Dinsdagoggend na "Vinnige Fanie" te kon luister was 'n voorreg.
RUBRIEK – Ek het dit alweer gedoen. My joernaliskleed vir ‘n oomblik laat sak en die hoof van Ankerskool gevra om ‘n foto van my te neem.
Saam met Fanie de Villiers. Dié Fanie de Villiers. Vinnige Fanie. Bouler extraordinaire van die 90’s.
Daardie jare was ek krieketmal en die spelers uit daardie era was my helde. Sy krieketdae is nou lank reeds verby alhoewel sy stem gereeld as krieket kommentator gehoor word.
Hy was gasspreker by die Anker se sakeontbyt en hy het ‘n groot indruk gelaat. Vriendelik. Plat op die aarde. Een van onse mense. Maar, met ‘n ekstra wysheid wat nie almal van ons beskore is nie.
Op sy kleinhoewe buite Pretoria het hy twee borde op met aanhalings van die filosoof Socrates. Die een lees, ken jouself, en die ander, met deeglike waarneming kom ware kennis.
Hy sê hy het dit by sy pa geleer. Op 15 het sy pa vir hom gesê, ‘n mens moet die reëls van die skool en die land volg, maar as dit kom by akademie, sport en kultuur dan moet jy verder gaan, buite die reëls dink en harder werk.
Fanie het geluister en met dié wyse raad en baie harde werk was hy op sy dag die wêreld se nommer een bouler.
Tog onthou hy waar sy wortels lê. Gebore in Vereeniging was hy in Deneysville op laerskool.
Later in Sasolburg op hoërskool tot hy in standerd agt in die koshuis by Volkies in Heidelberg beland het. Ter wille van sy krieket. Goeie besluit.
Ek het myself gaan voorstel en toe Fanie hoor ek is van Vaalweekblad was sy eerste reaksie.
“Vaalweekblad het so foto’tjie van my in standerd ses in die koerant geplaas omdat ek drie paaltjies gevat het. Ek was so trots, dit was die eerste keer wat ek in die koerant was. Ek het nou nog die uitknipsel.”
Dit was lekker om te hoor. Hy kan maar weet ek gaan die foto saam met hom ook hou, want by die man het ek in een oggend sommer baie geleer.
Ns. Ek kla nie oor die foto’s saam met my kriekethelde nie, maar dit sal gaaf wees as ek voormalige Transvaal rugbykaptein en Springbok Jannie Breedt dalk êrens by ‘n funksie kan raakloop. Ek sê maar net.
