Local newsNewsNews

Ponzi-skema ruk Valies se sakke

Paartjie voorspel Louis Liebenberg gaan almal onder die bus gooi

SASOLBURG – Alles wat skitter is nie goud nie. As iets te goed klink om waar te wees is dit gewoonlik.

Dit is die advies wat Henk (51) en Monique Haywood (28) die publiek gee nadat hulle soos duisende ander Suid-Afrikaners deur Louis Liebenberg, vermeende meesterbrein van Forever Diamonds and Gold Ponzi-skema, met duisende rand ingeloop is.

Die skema word sedert 2019 bedryf en beleggers het na beraming meer as R4.5 miljard “belê.”

Op 22 Oktober is Liebenberg en sy vrou Dezzi by ‘n restaurant in Benoni in hegtenis geneem en het op 24 Oktober in die Bronkhorstspruit Landdroshof verskyn.

Volgens die Haywoodegpaar is hulle twee jaar gelede per toeval aan die skema bekendgestel.
“Dit was ‘n reënerige dag. Ons het ‘n portable aircon verkoop en die persoon wat dit gekoop het, het ons daarvan vertel.

“Hy het ons vertel dat hy baie geld gemaak het en dat hy vir hom met die geld ‘n huis in die Kaap gekoop het,” vertel Monique.
Henk en Monique het toe video’s van die skema begin kyk en ook ‘n beleggings-beursie (wallet) oopgemaak.

Voornemende beleggers kon so min as R200 belê wat dit aanloklik vir baie mense gemaak het.

Volgens Monique-hulle is rente van tussen 25% en 125% belowe.
Dividende sou glo in ‘n 31 dae siklus uitbetaal word.

“Hy (Louis) is baie manipulerend en oortuigend,  maar hy is gewentenloos. Hy gaan almal onder die bus gooi, want hy was baie slim en slinks.
Nie een van die besighede is in sy naam nie,” vertel Henk.

Volgens Monique het die beleggers Louis soos ‘dissipels’ gevolg.

“Ons moes elke dag na sy lives of Facebook kyk. As jy nie elke dag ingekoop het of vrae gevra het oor jou geld nie, is jy onmiddelik van die groep afgeskop,” vertel Monique.

Volgens haar het Liebenberg ‘n patroon gevolg om ‘n paar dae voor die uitbetalingsdatum ‘n uitbarsting te hê en het dan nie die geld uitbetaal nie.

“Mens moet maar versigtig wees vir iemand wat godsdiens praat en dan uit dieselfde mond so vloek en te kere gaan. Ons voel sleg vir die mense wat ons ken wat saam met ons geld belê en verloor het.

“Van die mense het tot R500 000 verloor. Ons glo vas dat Louis en Dezzi op hul uitstappies na Namakwaland geld versteek het.

Ons kan net hoop dat regverdigheid sal seëvier. Ons wou net ‘n beter
lewe vir ons kind verseker het.

Een ding is verseker daar is geen manier om vinnig ryk te word nie,” sluit Henk af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button