Sakelui kuier saam by Ankerskool
Die Vaal se sakelui het onlangs by die Ankerskool saamgetrek vir 'n insiggewende, maar ook lekker kuier oggend.
VANDERBIJLPARK – Die Vaaldriehoek kan met reg trots wees op die Ankerskool. Vir jare is die skool al ‘n bastion onder skole vir kinders met spesiale leer behoeftes.
Jaar na jaar probeer die hoof en sy personeel nog meer vir die leerders doen, word die geboue en tuine in tip-top kondisie gehou en nuwe projekte geloods.

Die skool glo ook daarin om die gemeenskap betrokke te hou by al hul bedrywighede.
Jaarliks trek hulle soveel as moontlik sakelui saam vir ‘n spesiale oggend waar daar met die skool se prestasies gespog word en hul behoeftes vir die volgende jaar uiteengesit word.
Jaar na jaar antwoord die sakelui met ‘n oorweldigende ja op die uitnodiging en gee waar hulle kan.

Dié jaar was geen uitsondering nie. Op 29 Oktober het die Vaaldriehoek se sakelui, van die prokureurs tot by die sakekamer en die Rotariërs die sakeontbyt bygewoon.
Die leerders het beïndruk met hul netjiese voorkoms en vriendelike diens om seker te maak elke voertuig kry parkeerplek.
‘n Jonge dametjie met die naam Juanita het my van my motor na die saal vergesel. Sy het soveel drome, soveel potensiaal en ek is bly ek kon vir ‘n oomblik in tyd met haar gesels.

Hierdie jaar was daar twee gassprekers, voormalige Protea-krieketspeler Fanie de Villiers en sakeman en televisieaanbieder JP Fourie van FED Properties saam met Tiaan Kellerman van die Ankerskool. van Changecars, Michael Pashut.
Dié skool wat oral van die sportvelde tot by kultuuraksies hul stempel afdruk en menigmaal teen hoofstroom skole meeding, se leerders weet, by die skool kan en mag hulle maar trots wees.
Soos die dag se seremoniemeester en onderwyser by Anker, Tiaan Kellerman dit mooi saamgevat het, “ons is ‘n LSEN-skool, ons is nie veronderstel om dit te doen nie, maar ons doen dit.”
