Rukwind verniel dorp se bome
Die reën bly steeds weg en waterbeperkings geld nog totdat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit dit ophef.
Kwaai rukwinde in Vanderbijlpark het Dinsdag, 22 Oktober, groot takke van verskeie bome laat afskeur en verskeie struike ontwortel.
Van die takke en struike het in die dorp se strate beland en vir ‘n geruime tyd verkeer ontwrig. Die meeste van die boomstamme en takke is agterna deur inwoners van die onderskeie strate of deur lede van AfriForum verwyder. Dié foto is in Evereststraat geneem, waar ‘n boom feitlik by sy basis deur die wind afgeskeur en omgewaai is.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel donderbuie vir die Vaaldriehoek hierdie week, maar tot dusver het die gebied nog min reën sedert die winter gesien. Dit is tans steeds baie warm na die afgelope dae se hittegolf. Hoewel die wolke by tye saampak, bly dit steeds droog en stowwerig en waterbeperkings geld nog totdat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit dit ophef.