Local newsNewsNews

Vrolik, vindingryk en talentvol

Net in graad vier, maar die jonge dame woeker met haar talente. Selfs die kinderboekskrywer Jaco Jacobs het dit raakgesien.

VANDERBIJLPARK – Sy kwetter soos’n voëltjie. Sit nie vir ‘n oomblik stil nie. Haar hande beduie saam as sy gesels. Roxy de Beer is ‘n graad vier leerder aan die Laerskool D.F. Malherbe.

Onlangs het sy ‘n brief van haar rolmodel, die skrywer Jaco Jacobs, ontvang. Dit was nadat sy as deel van ‘n klasprojek ‘n hele strokiesprent oor een van sy boeke, Die meisie met vlerke, geteken het.

‘n Foto van die brief wat Jaco Jacobs aan Roxy geskryf het. Foto: LS D.F Malherbe Fb blad

Jaco het onder andere geskryf: “Juffrou Aletta het vir my jou strokiesprent gewys wat jy vir die klasprojek gedoen het – dit is fantasties! Jy moet beslis aanhou teken – dalk kan jy nog eendag een van my boeke illustreer!”

Roxy is baie ingenome met die brief en sê sy geniet al die skrywer se boeke en voer altyd sy gedigte by die Kunstefees op.

“Sy boeke is goed, want mens leer altyd ‘n les uit die boeke.” Haar kuns is vir haar ontspanning.

“Ek het nog altyd geweet ek het ‘n talent, daarom het ek my ma gevra om kunsklasse te neem.”

Sy wys met trots ‘n mosaïek van proteas wat sy in graad twee gedoen het en die vrolike pienk-rooi padda wat sy vir hierdie jaar se kunsuitstalling gedoen het.

Van die prentjies wat sy geteken het van die boek. Foto verskaf, LS D.F Malherbe

Naas kuns is sy betrokke by verskeie sportsoorte van netbal tot by hokkie en atletiek. Dan het sy ook onlangs die ukelele opgeneem.

“My broer is in Grey College in Bloemfontein en ons het ‘n konsert daar gaan kyk. Een van die seuns het die ukelele gespeel en die klank was vir my baie mooi, toe besluit ek, ek wil dit ook leer speel,” verduidelik sy met blink oë.

Alhoewel kuns haar na aan die hart lê wil sy eintlik ‘n dokter word. “Ek het van kleins af met doktersgoed gespeel, maar ek sal sien wat God my na toe lei,” verklaar sy met ‘n wysheid ver bo haar jare.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button